Nored se hoofkantoor op Ondangwa. FOTO KENYA KAMBOWE
Nored se hoofkantoor op Ondangwa. FOTO KENYA KAMBOWE

Nored tree op ná verliese van etlike miljoene

Aanklagte teen werknemers gelê
'n Vlaag strafregtelike aanklagte is aanhangig gemaak teen werknemers wat daarvan beskuldig word dat hulle saam met eksterne rolspelers gewerk het om Nored te bedrieg.
Kenya Kambowe
Die kragverspreider in die Noorde, Nored, het sake teen sommige werknemers aanhangig gemaak wat na bewering op korrupte wyse kliënte te min vir hul kragrekeninge aangeslaan het.

Die maatskappy het gevolglik verliese van N$73 miljoen gely as gevolg van dié praktyk.

Van Nored se personeel word daarvan beskuldig dat hulle kliënte onwettig aan die maatskappy se kragtoevoer verbind het in ruil vir omkoopgeld.

Network Media Hub (NMH) berig reeds vir ’n geruime tyd oor Nored se finansiële ellende wat veroorsaak dat die maatskappy nie sy finansiële verpligtinge kan nakom nie.

Nored se uitvoerende hoof, Fillemon Nakashole, en verskeie van sy senior uitvoerende beamptes is onbepaald geskors weens bewerings van korrupsie en wanadministrasie. Die maatskappy voorsien krag aan agt streke in die Noorde.

Nored se boeke is glo aan skerwe, met die maatskappy wat onlangs ná ’n oudit bekend gemaak het dat hy verliese van meer as N$90 miljoen gely het. Dit word grootliks toegeskryf aan kragmeters wat gesystap word, onwettige kragverbindings en kliënte se rekeninge wat nie hul werklike verbruik weerspieël nie. Die vermeende skuldiges is Nored-werknemers wat nou deur die Namibiese polisie ondersoek word.

Die maatskappy se woordvoerder, Simon Lukas, het intussen bevestig dat sake by die polisie aanhangig gemaak is.

“Ja, Nored het verskeie polisiesake teen die skuldiges geopen,” het hy gesê.

Nored se waarnemende uitvoerende hoof, Toivo Shovaleka, het verlede week in ’n interne memorandum gedateer 31 Oktober aangedui dat die maatskappy vasgestel het dat van sy personeellede doelbewus verantwoordelik is vir die finansiële verliese wat die maatskappy in die gesig staar.

“Ongelukkig, en met uiterste teleurstelling, moet ek aan julle sê dat ons nou vasgestel het dat sommige personeel – voltyds en op kontrak – individueel of saam met ander eksterne ‘kontrakteurs’ en kliënte doelgerig op ’n missie is om finansiële verliese te veroorsaak deur die reuse-omseiling van meters en onwettige verbindings,” het hy gesê.

“Dis ’n toets vir die maatskappy en ons sal daarvolgens optree,” het Shovaleka gesê.

Nored het verlede week sy omkeerstrategie van stapel gestuur wat daarop gefokus is om sy finansiële situasie te stabiliseer.

Dit kom enkele dae nadat die maatskappy se bestuur die Elektrisiteitsvoorsieningsbedryf (ESI) se forumvergadering op 24 Oktober op Otjiwarongo bygewoon het. Nored het by die forum sy verbysterende verliese onthul soos uitgebeeld in die oudits wat op die maatskappy se finansies uitgevoer is.

Nored het in ’n oudit van groot kragverbruikers ontdek dat 93 van die 605 meters elektrisiteitsverbruik onderrapporteer, ’n oorsig wat in ’n tydperk van drie jaar tot verliese van sowat N$73 miljoen gely het.

Uit dié bedrag kon net sowat N$61 miljoen verhaal word, met Nored wat aangedui het dat dit met die proses begin het.

Verder, deur middel van die identifiseringsproses van koeponne het Nored sowat 379 meters ontdek wat omseil word, met boetes van meer as N$13 miljoen, waarvan net N$3 miljoen tot dusver betaal is.

Vroeër vanjaar het NMH berig dat beweerde binnehandel, omkopery, onbeheerde besteding, die lek van vertroulike inligting, die misbruik van maatskappyvoertuie en die gebruik van nagemaakte voertuigonderdele die finansies van die land se grootste streekkragverspreider dreineer.

Dié inligting is gebaseer op dokumente wat NMH onder oë gehad het, wat die omvang van Nored se probleme onthul – ’n situasie wat die maatskappy se topleierskap aangespoor het om ‘n reeks organisatoriese veranderinge af te dwing.

Die dokumente het ook die skokkende omvang van die finansiële beperkings van die kragverspreider uitgelig. In Januarie vanjaar moes Nored se uitvoerende hoofde skarrel om N$8,9 miljoen binne drie dae bymekaar te skrap om sy uitstaande balans op sy NamPower-rekening te kan betaal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 33° Eenhana: 21° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 20° | 32° Otjiwarongo: 19° | 32° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 19° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 22° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 25° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 26° | 35° Lüderitz: 16° | 31° Ariamsvlei: 20° | 38° Oranjemund: 14° | 28° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 21° | 36° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 20° | 26° Maseru: 17° | 35° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 18° | 25° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 19° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 22° | 26° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 30° Lusaka: 18° | 27° Harare: 17° | 28° #REF! #REF!