Okahandja onthou

Drie moorde, geen arrestasie
’n Polisiekonstabel wat op voormalige Tuindorp gestassioneer is, het gesê die gemeenskap help nie.
Wonder Guchu

Okahandja onthou. Nie net die opskrifte en brekende nuus nie, maar die dawerende stilte.

Dit is byna ’n jaar sedert die dorp die middelpunt geword het van een van Namibië se skokkendste misdaadepisodes. Tussen 20 Maart en 25 April 2025 is drie jong meisies se lewens op ’n manier kortgeknip wat selfs die mees geharde waarnemers geskok het: Ingrid Maasdorp (5), Roswinds Fabianu (6) en die 15-jarige Beyoncé !Kharuxas.

Hul name het eens die lugruim gevul. Hul gesigte het televisie- en selfoonskerms oorstroom. Hul verhale het betogings, gebedsdae en ’n golf van woede ontketen wat die land gedwing het om homself in die oë te kyk.

Laat in April 2025 toe die verontwaardiging kookpunt bereik het, het president Netumbo Nandi-Ndaitwah Okahandja besoek. Voor treurende families en ’n geskokte gemeenskap het sy optrede belowe.

“Ek wil nie hê ’n Namibiese kind moet skool toe gaan, maar bang wees oor wat gaan gebeur wanneer die skool sluit nie,” het sy gesê.

’n Hoëvlak-taakspan is vinnig onder voorsitterskap van die minister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, Emma Kantema, ingespan en saamgestel uit onderwysminister Sanet Steenkamp,  gesondheidsminister dr. Esperance Luvindao en justisieminister Wise Immanuel. 

Wat as ’n strafregtelike ondersoek begin het, het gou ontwikkel tot ’n toets vir die staat self.

In die weke wat gevolg het, was daar ’n gewoel: Meer sigbare polisiëring, betrokkenheid van die gemeenskap en openbare verbintenisse om kinderbeskermingstelsels te versterk. Vir ’n oomblik het dit gevoel asof dinge gaan gebeur, maar byna ’n jaar later lyk dit of daardie momentum in die niet verdamp het.

Die geraas het weggekwyn. Opdaterings van die taakspan het skaars geword. Die nasionale gesprek het sy dringendheid verloor. Daar was min openbare rekenskap oor wat geïmplementeer is, wat misluk het en wat onopgelos bly.

Vandag is Okahandja weer rustig – dalk té rustig. So ook die land. Die lewe het op sy hardkoppig manier hervat. Kinders stap skool toe, strate woel voort en winkels sluit hul deure oop en toe. 

Maar onder daardie normaliteit bly ’n vraag hang: Wat het verander?


SIELKUNDIGE ONDERSTEUNING

Kantema het dié week aan Network Media Hub (NMH) gesê sy is besig met voorbereiding en het vrae na die geslagsministerie se woordvoerder, Lucas Haufiku, verwys.

Haufiku het gesê die taakspan het met die geraakte families vergader en psigo-sosiale ondersteuning verskaf.

“Behalwe dit, is ek nie seker of daar enigiets anders gedoen is nie,” het hy gesê en bygevoeg dat hy met die minister se kantoor sou opvolg.

Die polisiewoordvoerder van die Otjozondjupastreek, senior inspekteur Maureen Mbeha, wat ’n gemeenskapsvergadering bygewoon het, het navrae na adjunkkommissaris Edna Nawa verwys, wat gesê het ondersoeke is aan die gang.

“Ons is besig,” het Nawa gesê en opgemerk dat talle individue in verband met die moorde ondervra is.

’n Polisiekonstabel wat in Okahandja gestasioneer is en op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het gesê ’n gebrek aan samewerking van die gemeenskap belemmer steeds vordering.

“Niemand het met betroubare inligting na vore gekom nie. Ons probeer ons bes, ons werk van niks en nêrens af,” het die konstabel gesê.


ONOPGELOSTE SAKE

Die verloop van tyd het ’n manier om verontwaardiging af te stomp en onopgelaste sake by die groeiende lys van moorde te voeg.

In Katutura is die 35-jarige Delysia ||Garoes in Mei 2025 dood in ’n rivierbedding in Damara 15 aangetref. Geen verdagte is tot verantwoording geroep nie.

Juanita Karolus (33) is in Oktober 2025 naby die Katutura Jeugkompleks verkrag en vermoor.

In Junie 2022 is Charmaine Saron (28) se liggaam met steekwonde agter die Hosianah-gemeente in Katutura ontdek.

Dan was daar die 17-jarige Magdalena Stoffels, wat in Julie 2010 in ’n rivierbedding in Khomasdal vermoor is. Die polisie het aanvanklik vir Junias Fillipus gearresteer, wat daar naby met beserings en bloedbevlekte klere gevind is. Hy het maande in aanhouding deurgebring voordat forensiese bewyse hom uitgesluit het, wat tot sy vrylating in 2011 gelei het. 

Sy daaropvolgende regsgeding vir onregmatige arrestasie en aanhouding het momentum verloor. Die saak bly onopgelos.

Die negejarige Avihe Cheryl Ujaha is helder oordag uit die Enkelkwartiere in Katutura ontvoer. Haar liggaam is later naby die Staanvas-sirkel in Khomasdal ontdek – wat ’n paniekbevange soektog in nasionale rou verander het. Haar saak het ook uit die kollig verdwyn.

Tussen 2005 en 2007 het ’n reeksmoordenaar die lewens van vyf vroue geëis en liggaamsdele langs die B1-pad tussen Windhoek, Okahandja en verder noordwaarts versprei. 

’n Namibiese man wat in Duitsland gebore is, is gearresteer, maar later weens onvoldoende bewyse vrygespreek. 

’n Ander verdagte, voorheen skuldig bevind aan moord, is ná sy selfdood in 2008 geïmpliseer, met DNS-skakels wat agterdog laat ontstaan het, maar niks konkreet nie. 

Die saak is nooit amptelik afgesluit nie.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer