Okahandja rou ná moord op vyfjarige

Aurelia Afrikaner
Die gemeenskap van Okahandja is in rou ná die tragiese dood van die vyfjarige Ingrid Maasdorp, ’n graad 0-leerling van die Laerskool K.W. von Marees.

Ingrid is op 20 Maart 2025 as vermis aangemeld nadat sy deur haar oom by die skool afgelaai is. Daar is aanvanklik vermoed dat sy tydens ’n hewige reënbui in die dorp deur die rivier meegesleur is. Die volgende dag is haar lewelose liggaam in ’n tonnel naby die nuwe brug langs die B1-pad in Veddersdal ontdek.

Wat begin het as ’n saak om ’n vermiste persoon op te spoor, het sedertdien in ’n nagmerrie vir die Maasdorp-gesin ontaard en ’n kreet om geregtigheid wat steeds onbeantwoord weerklink.

“Ons het haar afgelaai soos ons altyd doen. Haar nefie het haar in die klaskamer ingeneem. Maar toe hulle terugkom om haar te gaan haal, was sy weg. Geen onderwysers in sig nie, niks,” vertel haar ouma, Dolly Maasdorp.

“Ons het oral gesoek.”

Volgens die ouma is die familie aanvanklik meegedeel dat die skool gesluit is weens swaar reën, inligting wat hulle eers ontvang het nadat Ingrid reeds verdwyn het.

’n Medeleerling het beweer Ingrid is deur ’n onbekende vrou opgelaai. Dit was die laaste keer dat iemand haar lewend gesien het.

“Die polisie is meegedeel dat ’n dame haar opgelaai het, maar hulle het verby daardie inligting gekyk en gesê die seuntjie is klein.

“Wat beteken dit as die seuntjie dit twee keer op dieselfde manier gesê het as wat hy dit eerste gesê het?” het die ouma gevra.

“Die liggaam is in die tweede tonnel gevind, die eerste tonnel is die plek waar hulle haar verkrag en vermoor het en toe het hulle haar in die water in die tweede tonnel gegooi,” het ouma Dolly gesê.

Ingrid se liggaam is Vrydag op 21 Maart gevind.



POLISIE

Aanvanklike vermoedens was dat sy moontlik verdrink het, maar nadat die hoofwoordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, met die familie gepraat en die besonderhede gehoor het, is gemene spel vermoed. Die vermoedens is ongelukkig bevestig.

“Die lykskouing is uitgevoer en is nou bevestig,” het sy gesê.

“Die kind is verkrag, verwurg en in die water gegooi. ’n Ondersoek is intussen van stapel gestuur en duur voort. Sake van verkragting, moord en dwarsboming van die gereg en verdagtes word ondersoek.”

Die familie se vrees het verdiep toe haar ouma die toestand beskryf het waarin haar kleindogter gevind is.

“Toe ons die merke op haar gesig sien, het ons geweet sy is dalk gesleep, op sand of dalk op iets. Haar naels was gebreek, asof sy iets probeer vashou het toe sy gesleep is,” het ouma Dolly met ’n breekstem gesê.

“Haar skoolskoene, haar een skoolsokkie, kosblik en bottel word steeds vermis. Waar is haar goed?”

Slegs ’n paar items is glo teruggevind: Een sokkie, haar leë rugsak, kortbroek is alles ver van waar haar liggaam gevind is, aan die oorkant van die brug ontdek.

Die familie, wat steeds na antwoorde soek, voel hul krete om geregtigheid word onder burokratiese stilte begrawe.

Shikwambi het gesê: “Indien daar enige vordering in die ondersoeke is, sal ons dit opdateer, maar neem asseblief kennis dat ons nie in die openbaar oor lykskouings of oorsake van sterftes sal rapporteer nie.”

Dié stelling het min gedoen om die bedroefde familie wat reeds so baie verloor het, te troos. Ouma Dolly, wat Ingrid as een van haar eie kinders grootgemaak het, sukkel om te verstaan hoe dit kan gebeur by ’n plek wat hulle haar moes beskerm.

“Sy het geweet om nie met vreemdelinge te praat nie. Ons het haar dit geleer. En hulle het geweet dat net haar oupa haar mag gaan haal, net hy,” het sy beklemtoon.

“Hoekom het die skool ons nie gebel nie?”

Die dorp het gehelp om vir Ingrid te ruste te lê, maar die wonde bly wawyd oop.



BELONING

’n Beloning is uitgeloof vir enigiemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisname van die oortreder. Die familie pleit vir getuies om na vore te kom.

“Dit kan nie weer gebeur nie,” sê ouma Dolly.

“Ons kinders verdien veiligheid en ons verdien geregtigheid. Asseblief, as iemand iets weet, praat.”

Terwyl die son oor Okahandja sak, treur ’n gemeenskap nie net oor die verlies van ’n kind nie, maar oor die onskuld wat gesteel is, die vrae wat onbeantwoord gelaat is en die geregtigheid wat net buite bereik bly.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer