Organe in vlak grafte dié van koei en bok

Inwoners voel onveilig
Die polisie vermoed dat die grafgrawers dalk instruksies ontvang het van 'n twyfelagtige 'tradisionele geneser' wat valse beloftes aan hulle gemaak het.
Yandi Du Plessis
Tuyeimo Haidula - Die polisie in die Oshanastreek het ná ’n ondersoek tot die gevolgtrekking gekom dat die organe wat onlangs in vlak grafte by Omatando no.1 ontdek is, aan ’n koei en bok behoort.

Die polisiebevelvoerder in die Oshanastreek, Naftal Lungameni Sakaria, het gesê die long en hart wat op 27 Julie ontdek is, behoort aan ’n bok. Die organe is in ’n vlak graf saam met kledingstukke gevind.

Die tweede ontdekking van ’n long is op 31 Julie gemaak en volgens Sakaria het ’n forensiese ondersoek aan die lig gebring dat dit aan ’n koei behoort.

Die long is ook saam met kledingstukke in ’n vlak graf gevind. Die polisie het ’n swart spanbroek, wit laken, ’n top en die long wat in ’n swart plastiek toegedraai was, uitgegrawe.

“Die publiek het geen rede tot vrees nie, albei organe was van diere,” het Sakaria gesê en bygevoeg dat hulle een van die plastieksakke wat ’n strepieskode gehad het, teruggespoor het na ’n plaaslike winkel wat vleisprodukte verskaf.

VERSIGTIG

Sakaria het egter die publiek aangeraai om enige verdagte aktiwiteite en grafgrawery van hierdie aard in die gebied by die polisie aan te meld.

Sakaria het gesê die polisie vermoed dat die grafgrawers dalk instruksies ontvang het van twyfelagtige “tradisionele genesers” wat valse beloftes aan hulle gemaak het.

“Ons vermoed dit kan dalk rituele wees. Of iemand wat deur sogenaamde toordokters en kruiedokters aangesê is om die items te begrawe. Dit kan teen ’n baie hoë koste kom. Hierdie mense het dalk ’n fortuin bestee en is aangesê om hierdie aktiwiteite uit te voer. As iemand die slagoffer geword het of die publiek weet van enige vals genesers wat mense uitbuit, moet hulle die polisie nader vir bystand,” het hy gesê.

PANIEK ONDER INWONERS

Julius Mulongeni, die hoofman van Omatando no. 1, het gesê die mense in die dorpie voel onveilig omdat die area te bedrywig is.

Mulongeni het by die Ongwediva-dorpsraad gepleit om nog ’n skoonmaakveldtog van stapel te stuur en hulle daartoe te verbind om die gebied te ontbos.

Jackson Muma, die woordvoerder van die dorpsraad, het gesê Omatando no.1 is deel van die area wat hulle verlede week skoongemaak het ná talle klagtes van die dorpenaars dat misdadigers in die bosse skuil.

Muma het die inwoners die versekering gegee dat die raad sal voortgaan om die gebied vir die gemeenskap veiliger te maak.

“Ons moedig ook die gemeenskap aan om saam met ons skoon te maak, maar om nie die groot bome wat goed is vir skaduwee af te kap of te verwyder nie. Kom ons skep ’n veilige ruimte sonder om ontbossing te veroorsaak,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!