High court Photo: file
High court Photo: file

Oudpolisieman ook skuldig aan aanranding

Hy het in sy eie verdediging getuig
Morgan Plaaitjie het skuld beken op vier aanklagte waarop hy tereggestaan het.
Rita Kakelo
’n Maand nadat ’n voormalige ondersoekbeampte van die polisie se eenheid bemoeid met geslagsgebaseerde geweld skuld beken het op die moord van die ma van sy kinders, is hy ook skuldig bevind aan nog ’n klag van aanranding.

Morgan Plaaitjie (46) het erken dat hy Yvette Louw (38) in Junie 2021 by haar huis op Keetmanshoop met ’n mes doodgesteek het.

Hy het skuld beken op vier aanklagte waarop hy tereggestaan het, insluitend moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, die oortreding van ’n beskermingsbevel en die opsetlike beskadiging van eiendom.

Hy het wel onskuldig gepleit op ’n klag van aanranding deur dreigemente. Regter Dinnah Usiku het hom egter Donderdag in die hoërhof in Windhoek op dié klag ook skuldig bevind.

Plaaitjie, wat vir 18 jaar in die Namibiese polisie as ondersoekbeampte gedien het, het glo doodsdreigemente aan Louw gemaak. Hy het egter ontken dat hy die indruk geskep het dat hy die dreigemente teen haar sou uitvoer.

BUURVROU GETUIG

Volgens die buurvrou, Isalinda Vries, het sy die egpaar dikwels saam met hul kinders gesien ondanks die twee jaar oue beskermingsbevel wat Louw teen hom gehad het.

Hulle het egter op 7 Mei 2021 ’n woordewisseling gehad ná bewerings dat Louw ontrou was.

“Ek was omstreeks 23:00 by die huis toe ek hoor hoe Louw vir Plaaitjie skree: ‘Slaan my soos jy altyd doen.’ Ek het dadelik na buite gegaan en haar geroep om na my huis toe te kom. Ek het haar opdrag gegee om die hek agter haar te sluit terwyl hy agter haar aangehardloop het.”

Vries het daarna die polisie gebel. Sy het tydens kruisondervraging daarop aangedring dat sy hom daardie dag die woorde “Ek sal jou doodmaak” hoor uiter het. Louw is 49 dae later vermoor.

“Hierdie hof moes staatmaak op die getuienis van ’n enkele getuie en na my mening was die getuie se getuienis duidelik en bevredigend in alle wesenlike feite. Daar is dus geen twyfel dat die gebeure ontvou het soos deur die getuie beskryf is nie,” lui Usiku se uitspraak.

PLAAITJIE IN DIE GETUIEBANK

Nadat die staat hul saak gesluit het, het Plaaitjie gekies om in sy eie verdediging te getuig.

Hy het erken hy en Louw het ondanks die beskermingsbevel by talle geleenthede in die openbaar ontmoet, soms om onderhoudsgeld vir hul kinders te gee.

“Sy het ook my plaas besoek en sou vir ’n paar dae daar by die kinders gebly het,” het Plaaitjie bygevoeg.

Volgens hom het hy na Louw se huis gegaan om sy foon te gaan haal en uit woede het hy die televisiestel op die grond geslaan.

“Toe die polisie opgedaag het, het ek die situasie verduidelik en hulle het die perseel verlaat.”

Plaatjie het aangevoer dat die betrokke voorval nie die element van gevaar ingehou het nie en dat die oorledene nie in daardie stadium bang kon gewees het as gevolg daarvan nie.

Nietemin het die hof Plaaitjies skuldig bevind op die aanklag van aanranding deur dreigemente en opgemerk dat hy nie net die woorde “ek sal jou doodmaak" geopper het nie, maar ook dae later op grond daarvan opgetree het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!