Dubbele moordbeskuldigde mnr. Simon Kandume. Foto Namibian Sun.
Dubbele moordbeskuldigde mnr. Simon Kandume. Foto Namibian Sun.

Pa vermoor tweejarige glo in haar slaap

Vyfjarige seun ongedeerd
'n Man wat na bewering sy meisie en tweejarige dogter vermoor het, asook sy 13-jarige seun aangeval het, het glo ná die voorval selfdood probeer pleeg.
Tuyeimo Haidula
’n Vyfjarige seun wat die afgelope naweek na bewering moes toekyk hoe sy pa sy ma en jonger suster doodgesteek het, is ongedeerd omdat hy glo sy pa se oopappel is.

Die voormalige soldaat, mnr. Simon Kandume, het Sondag na bewering sy meisie en tweejarige dogtertjie vermoor en sy 13-jarige seun aangeval.

Die 13-jarige seun is Maandag uit die intensiewesorgeenheid ontslaan en herstel glo goed.

Die polisiewoordvoerder in die Oshanastreek, insp. Thomas Aiyambo, sê die vyfjarige seun is die enigste een wat die pa nie aangeval het nie.

Volgens ’n familielid het die vyfjarige ’n spraakprobleem en sy pa is glo geheg aan hom.

Kandume is ’n inwoner van die informele nedersetting Ohenghono en die voorval het in die informele nedersetting Okangwena op Ondangwa plaasgevind.

SUSTER EERSTE OP DIE TONEEL

Die oorlede ma, me. Ruth Nadpandula Immanuel, se suster, me. Julia Abel, was eerste op die toneel en was steeds geskok toe sy Maandag met Republikein se susterkoerant, Namibian Sun, gepraat het.

“Hierdie man het eers aan my deur geklop en gevloek, maar ek het nie geantwoord nie. Daarna het hy aan my suster se deur gaan klop en sy het oopgemaak. Ons het nie geweet dit was om hulle dood te maak nie.

“Nadat hy die daad gepleeg het, het hy na my deur toe gekom en vir my gesê om te gaan kyk wat hy gedoen het. Toe ek by die kamer inloop, was almal stil. Ek kan steeds nie glo wat ek gesien het nie,” vertel Abel.

Volgens Abel het Kandume en Immanuel gedurig baklei.

“As hy nie alkohol gedrink het nie, was hy ’n goeie man. As jy hom nugter sien, sou jy dink ons beskuldig hom valslik en dat hy nie hierdie misdade gepleeg het nie.

“As hy drink, wil hy net doodmaak. Die polisie probeer al lank om in te gryp. Niemand het gedink dit sou só eindig nie, alhoewel my suster aangeraai is om hom te los,” het Abel gesê.

Abel sê sy sal Kandume nooit kan vergewe vir die moord op haar suster se dogter nie.

“Hy het haar in haar slaap doodgemaak. Sy was die eerste een wat ek opgetel het toe hy my vertel wat hy gedoen het. Ek het toe besef sy bloei en haal nie asem nie. Hoe kan hy dit doen?

“Ek wil hom nooit weer sien nie. Hy het hulle doodgemaak soos hy diere sal doodmaak.”

SELFDOOD

Volgens Aiyambo het Kandume sy eie lewe probeer neem nadat hy na bewering die moorde gepleeg het.

Hy is by die Onandjokwe-staatshospitaal opgeneem en is steeds bewusteloos.

Hy sal eers in die hof verskyn nadat hy herstel en uit die hospitaal ontslaan is.

Immanuel se familie het hul teleurstelling uitgespreek omdat Kandume se familie hulle nog nie oor die gebeure gekontak of hul medelye betoon het nie.

Voor Immanuel se dood was sy, volgens Abel, werkloos en het gesukkel om vir die kinders te sorg.

“Nou het die skielike afsterwe selfs ’n groter leemte gelos wat ons moet vul. Ons het hulp nodig, asseblief,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!