Pablo word op plaas begrawe

Tanja Bause
’n Perd wat verlede week tussen Woensdagnag en Donderdagoggend van die plaas Elisenheim gesteel is, se kop en bene is later die dag in bosse gevind.

Pablo, die 14-jarige hings wat op die plaas gebore is, het nie soos gewoonlik vroeg Donderdagoggend van die veld af terug huis toe gekom nie.

Volgens sy eienaar, me. Samantha McCartney, is dit ongewoon en sy het bekommerd geraak.

Sy het later na Pablo gaan soek toe sy op ’n hek met ’n afgeknipte ketting afgekom het en die hek weer met draad toegemaak is.

“Aan die anderkant van die hek was Pablo se spore en een stel mensspore. Ons het die spore gevolg maar het dit later verloor. Ek het toe die teenstropings- en veediefstaleenhede gekontak wat onmiddellik ons te hulp gesnel het en die spore gevolg het. Die spore het deur ’n sakeperseel, oor die hoofpad na Okahandja en in die berge na die informele nedersetting Okahandja Park gelei. Dis in daardie berge waar hulle Pablo se kop en pote gevind het.”

McCartney is die eienaar van Equitrails Namibia wat perderitte vir beginners-, intermediêre en ervare ruiters aanbied.

Pablo was een van die perde waarop vierjarige kinders kon ry weens sy saggeaarde temperament.

“Hy sou na die persoon gegaan het en sy kop op sy skouer neergesit het. Dis die tipe perd wat hy was.

“Die mensdom het hom verraai. Die afgryse wat hy in sy laaste ure moes beleef het. Hoe kap jy ’n perd langs wie jy etlike kilometer gestap het se kop af?”

Pablo se kop en pote is terug na die plaas geneem waar dit begrawe is.

Stropery is volgens Sean Naude van die Namibian Marshall Rangers aan die toeneem.

“Die informele nedersettings grens aan die Daan Viljoen-park, die plase en die Brakwater-plotte. Op al die gebiede neem gevalle van stropery toe. Dit is wel die eerste keer dat ’n perd gesteel en geslag is.”

Ploteienaars kla al jarelank oor hout wat van die plotte gesteel word, ’n probleem wat ook in die laaste tyd vererger het.

Inwoners van Elisenheim het ook opgemerk dat draadstrikke vir voëls al hoe meer in riviere en die omliggende veld gevind word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 17° | 27° Rundu: 19° | 26° Eenhana: 21° | 33° Oshakati: 23° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 18° | 29° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 28° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 22° | 29° Lubumbashi: 16° | 25° Mbabane: 18° | 22° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 18° | 22° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 18° | 24° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 17° | 26° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 18° | 28° Harare: 16° | 22° #REF! #REF!