#PAS IN: Angolese man beroof, vermoor
Die polisie in die Oshanastreek ondersoek 'n saak van moord, nadat 'n Angolese burger deur onbekende mans beroof en doodgesteek is. Die voorval het Donderdag tussen 18:00 en 19:00 plaasgevind. Die polisie se koördineerder van misdaadondersoeke in die streek, adj. komm. Frederick Ndjadila, sê die aanval op die man het na bewering in 'n oop ruimte naby die Omutuni-nedersetting in die omgewing van Oshakati-Oos plaasgevind.
Volgens Ndjadila het die mans die slagoffer met 'n onbekende voorwerp gesteek, terwyl hy saam met twee landgenote onderskeidelik 28 en 31 was.
Die verdagtes het die mans van hul herlaaibewyse ter waarde van N$1 400 en kontant van N$600 beroof.
"Volgens die inligting wat deur die ander twee slagoffers verskaf is, het hulle die oorledene na die Omutuni-nedersetting gedra, maar is hy onderweg daarheen dood."
Die verdagtes het glo van die toneel in die rigting van die Oshoopala-nedersetting gevlug. Die oorledene se naam word weerhou, omdat sy familie nog nie van sy dood in kennis gestel is nie.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie