‘Pastoor’ verkrag glo stiefdogter

Hy is glo die pa van haar kind
Hoewel die baba reeds gebore is, is die saak eers onlangs by die polisie aangemeld en is die vermeende verkragter nog op vrye voet.
Kenya Kambowe,Tuyeimo Haidula
Kenya Kambowe en Tuyeimo Haidula

’n Vyftienjarige meisie het twee maande gelede geboorte geskenk aan ’n gesonde babaseuntjie nadat haar stiefpa, ’n 40-jarige selfverklaarde pastoor wat met haar ma getroud is, haar glo herhaaldelik verkrag het.

Dié tiener woon tans in die informele nedersetting Ombogo in die Omusatistreek en dit is glo nie die eerste keer dat sy ’n slagoffer van verkragting is nie.

Sy sê ’n familievriend, wat ook ’n selfverklaarde pastoor is, het haar in 2022 verkrag. Die vermeende verkragter het glo hul huis besoek en haar saans verkrag terwyl haar broers en susters geslaap het.

Die bewerings van verkragting het aan die lig gekom in die afgelope naweek se misdaadverslag wat deur die Namibiese polisie uitgereik is – dit was glo egter net die oortjies van die seekoei.

Twee joernaliste het gister die tiener se huis, wat sy met haar 43-jarige ma deel, besoek om meer oor die voorval uit te vind.

‘TOEGESLUIT EN VERKRAG’

Die tiener is ’n graad 8-leerling en het gesê die beweerde verkragting het in Julie verlede jaar begin toe haar ma die huis verlaat het om ’n begrafnis by te woon.

Hy (stiefpa) het glo ’n natuurwetenskapboek uit haar skooltas gehaal en met haar oor seksuele voortplanting begin praat. Hy het glo vir haar en haar negejarige nefie begin leer oor seksuele organe.

“Hy het die voortplantingsorgane op die grond geteken en vir ons gesê hoe om kondome en goed te gebruik,” het sy gesê.

Daarna het hy haar glo gebel om sop na sy kamer te neem en nadat sy die kamer binnegegaan het, het hy dit gesluit en haar na bewering begin verkrag.

Sy beweer verder dat die vermeende verkragter haar vir ’n week in sy kamer toegesluit en geweier het dat sy skool toe gaan.

“Hy het toe my skool gebel om hulle in te lig dat ek siek is omdat ek na bewering diarree gehad het en gehoes het.

“Hy het my saans verkrag en soggens as hy die huis verlaat het, het hy my in die kamer toegesluit en my eers om 14:00 toegelaat om uit te gaan, wanneer my broers en susters van die skool af teruggekom het.

“Snags het hy my weer na sy kamer toe geroep om vir hom skrif te lees en sodra ek by sy kamer ingaan, sluit hy dit en dit het gebeur tot my ma teruggekom het.

“Toe my ma van die begrafnis terugkom, het ons aangegaan asof niks gebeur het nie, want hy het vir my gesê om vir niemand te sê nie, anders sou hy my slaan,” sê sy.

In September is die tiener se ma in die hospitaal opgeneem en gedurende daardie tyd het die seksuele aktiwiteite hervat.

Volgens die meisie sou die vermeende verkragter haar ook na die kerk nooi en op pad terug huis toe, sou hy haar in die nabygeleë bosse verkrag.

’n Maand ná die beweerde verkragting het die verdagte die meisie se ma in haar teenwoordigheid ingelig dat hy haar dogter glo swanger gemaak het.

NIE AANGEMELD NIE

Op ’n vraag waarom sy nie destyds die saak by die polisie aangemeld het nie, het die tiener se ma gesê dit is weens haar gesondheidstoestand aangesien sy aan hoë bloeddruk ly en aangeraai is om nie te stres nie omdat dit haar toestand kan vererger.

Sedertdien het die ma gesê sy het vrede gemaak met die saak en sy was die een wat haar dogter na haar opvolgsessies by die Tsandi-staatshospitaal geneem het.

Die tiener beweer dat die man haar tydens haar swangerskap ook fisiek mishandel het as sy geweier het om by hom te slaap.

“Toe ek vier maande swanger was, het hy my geslaan nadat ek gevra het wie het die water uitgegooi wat ek gekook het.

“Hy het my geklap en met sy vuis geslaan en my met ’n geswelde gesig gelos,” het sy gesê.

Die bevelvoerder in die Omusatistreek, kommissaris Ismael Basson, het bevestig dat die verdagte nog nie in hegtenis geneem is nie en het versoek dat enigiemand met inligting wat tot sy inhegtenisneming kan lei, die polisie moet kontak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!