Pres. Cyril Ramaphosa, op wie se wildplaas vyf Namibiërs glo US$600 000 gesteel het wat hy vir 'n buffeltransaksie ontvang het. Foto News24
Pres. Cyril Ramaphosa, op wie se wildplaas vyf Namibiërs glo US$600 000 gesteel het wat hy vir 'n buffeltransaksie ontvang het. Foto News24

Phala Phala: Namibiërs steel glo US$600 000

Hoofredaksie
Die bedrag geld wat vyf Namibiërs na bewering op 9 Februarie 2020 uit pres. Cyril Ramaphosa se Phala-Phala-plaashuis gesteel het, was glo aansienlik minder as wat oudspioenbaas Arthur Fraser in sy polisieverklaring aangevoer het.

News24 berig die bedrag geld wat gesteel is, was sowat US$600 000 (nagenoeg N$9 miljoen). Dit was ook nie in ’n rusbankkussing of matras versteek nie, maar in ’n kas.

Fraser, voormalige direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap – wat ’n strafregtelike saak teen Ramaphosa en sy hoof van sekuriteit, genl.maj. Wally Rhoode, geopen het oor die inbraak en beweerde toesmeerdery daarvan – het in Junie in ’n verklaring aangevoer “meer as US$4 miljoen” is gesteel.

News24 het Woensdag berig sleutelbesonderhede oor die gebeure op Ramaphosa se wildplaas naby Bela-Bela in Limpopo begin na vore kom namate ondersoeke vorder.

Die sowat US$600 000 is aan Ramaphosa se plaasbestuurder, Hendrik von Wielligh, betaal vir die verkoop van een buffel, lui die berig. Die koper van die buffel is van Dubai en die persoon se naam is aan die openbare beskermer in Suid-Afrika bekend.

Die meesterbrein agter die voorval, Imanuwela David, en sy vier vermeende makkers, Urbanus Shaumbwako, Petrus Mukekeni, Erkki Shikongo en Petrus Afrikaner, is volgens Fraser se verklaring deur ’n huiswerker en haar broer genader om in te breek en die geld te steel.

Rhoode het in ’n verklaring wat by die openbare beskermer ingedien is, gesê hy weet nie wat die presiese bedrag is wat gesteel is nie. Ramaphosa het hom in Februarie 2020 van die inbraak ingelig terwyl hulle albei in Addis Abeba was vir 'n Afrika-unie-beraad.

Sowat ’n maand later, vroeg in Maart 2020, is hy na Ramaphosa se huis in Johannesburg ontbied, waar hy toe ingelig is dat kontant gesteel is.

Rhoode beweer volgens News24 hy het die destydse adjunk- nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Sindile Mfazi, ingelig wat volgens hom opdrag gegee het om “meer inligting in te samel”.

Rhoode het dit toe gedoen en ’n onderhoud met 'n "tydelike werker" Froliana Joseph en haar broer, David, gevoer.

Rhoode het volgens News24 in sy verklaring gesê die onderhoude was vrywillig en het nie op ondervragings neergekom nie. Nadat hy die inligting ingesamel het, het hy dit aan Mfazi oorhandig omdat hy nie by magte is om dossiere te registreer nie.

Rhoode bevestig ook dat hy in Junie 2020 saam met Ramaphosa se spesiale adviseur, Bejani Chauke, na Namibië gereis het om met pres. Hage Geingob, te vergader. Hulle is deur ’n polisiehelikopter vanaf Nakop na Windhoek gebring.

Hy beweer die besoek het verband gehou met AU-aangeleenthede en dat hy toe reeds die dossier oor die voorval aan Mfazi oorhandig het.

Mfazi is in Julie 2021 dood. Daar is aanvanklik geglo hy het gesterf aan Covid-19-komplikasies, maar op aandrang van sy familie is sy liggaam opgegrawe, en die polisie het bevestig hulle ondersoek nou ’n moordsaak nadat toksikologiese verslae op tekens van giftige hars gedui het, lui die berig.

[email protected]

Kommentaar

David Louw 2 Jaar Gelede 12 August 2022

Cyril hou daarvan om altyd te oordtryf!! Plaas dat hulle die plek afgebrand het - dan het hulle goeie werk gedoen!! SA steel genoeg geld vanaf Namibië

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!