Die Windhoekse stadspolisie probeer om misdaad in die hoofstad te bekamp.
Foto Windhoek-munisipaliteit
Die Windhoekse stadspolisie probeer om misdaad in die hoofstad te bekamp. Foto Windhoek-munisipaliteit

Polisie waarsku teen dié gevaarpunte

Windhoek onder misdaadbeleg
Die Windhoekse stadpolisie het 'n lys bekend gemaak van gevaarsones in die hoofstad waar misdaad gereeld voorkom.
Augetto Graig
Misdaad in die hoofstad is besig om nuwe hoogtes te bereik.

Dit volgens die Windhoekse stadspolisie wat dié week ʼn lys van 50 gevaarpunte vrygestel het.

Die lys dui aan waar, wanneer en waarvoor daar in die hoofstad se strate teen misdaad gewaak moet word.

In die omgewing van die Wanahede-polisiekantoor moedig die polisie mense aan om waaksaam by sjebiens langs die Monte-Christo-pad en agter die Sekondêre Skool A. Shipena te wees.

Nog ’n gevaarpunt is naby die Hoërskool Hage Geingob en by die kruising van Abraham Mashego en Monte Christo. Mense moet bewus wees dat die wet op alkohol hier oortree word en diefstal plaasvind, insluitend die gryp van selfone.

Havana se inwoners moet versigtig wees vir rooftogte, huisinbrake, aanranding, geslagsgeweld en moord.

Die gevaar op die Monte Christo-pad lê by die drie- en vierrigtingkruisings, naamlik by Usave, die Havana-stortingsterrein en by Walvisbaai-, Zambië en Outapistraat.

In Goreangab is Matsitsistraat se kruising met Green Mountain-weg

’n gevaarsone waar rooftogte, verkragting, aanranding en huisinbrake voorkom. Die sokkervelde en die strate Dario, Bartlet, Kariba en Kingsley, is ook gevaarlik, volgens die stadspolisie.

Evelinestraat in Greenwell Matongo is ook ’n gevaarpunt waar onwettige alkoholverkope tot aanranding, rooftogte en inbrake by voertuie lei. Die Puma-vulstasie, Siyanda Court se busstop, by die kruising voor New World Bar, Masipiri se busstop en in Tolastraat, moet mense waaksaam wees.

In Wanaheda kom huisinbrake, inbrake by voertuie en rooftogte voor. Marseystraat, naby Xwama, Zambezistraat en die rivierbedding agter die Woermann Brock-winkel, en die Wanaheda-busstop kan gevaarlik wees.

Inwoners van Barug-, Antioches-, en Arimatheastraat en naby die rivierbedding langs Pomonzi in Luxury Hill in Katutura moet ook op hul hoede wees. Hier kom prostitusie ook voor, volgens die polisie.

Die vulstasie in Soweto en die gebied oorkant die Sekondêre Skool A. Shipena is ook gevaarsones.

Inwoners in Ombili moet in hul pasoppens wees in Ongava-, Etetewe- en Omuryambabistraat, by die vierrigtingkruising van Etetewe- en Omuvapustraat, en naby die Woermann Brock-winkel. Huisinbrake, aanrandings, diefstal en rooftogte kom ook hier voor.

Nog gevaarpunte sluit Onheleiwastraat, Ongawastraat, die drierigtingkruising by Lyeeta en die kitsbank by Stop ’n Stop in Okuryangava in.

Okahandja Park se ope mark en Rev. Paulus Gawasebstraat word deur misdadigers geteiken, terwyl Hakahana se kliniek, Omulungastraat en die gebied naby die Primêre Skool Moses Garoeb onveilig is.

Mense moet in Grysblok by die vierrigtingkruising en naby enige rivierbedding waaksaam bly.

Talle pangaanvalle, taxikapings, aanrandings, dwelmverkope en voertuigdiefstalle het al in Otjomuise se deel van Matsitsistraat voorgekom.

Katjikuru Katjiongwa en die gebied naby die Otjomuise-kliniek is ook veral ná 20:00 en in die oggende voor 12 uur onveilig.

Die stadspolisie het ook Tokyo-, Vienna-, Beijing- en Kitchenstraat op die lys gevoeg. Verder kom misdaad by die Otjomuise-inkoopsentrum in Cassambastraat, en langs die Daan Viljoen-pad voor. In Rocky Crest is die grondpad gevaarlik, tesame met Black Rock Island-straat, Sam Nujoma-rylaan en Inchaboestraat.

In Khomasdal is Gladiola-, Moses Garoeb- en Kolynalynestraat bekend vir huisinbrake en mesrooftogte.

By Ramatex se suidelike hek kom rooftogte onder valse voorwendsels voor.

Kruisings op Hans-Dietrich Genscher- en Florence Nightingalestraat, en by die Single Quarters, word geteiken, en ook in Onafhanklikheidsrylaan veral vanaf Clemence Kapuuostraat tot by die Kentucky Fried Chicken (KFC).

In die Herero-lokasie is misdaad veral by Parliament Bar, Herero Mall en by BSK Bar ʼn moontlikheid.

Miama Service, Big Shops, Dolam 6 Bar, Isak Kazongaristraat, Kindergardenstraat en Gemeente se Nama 10-rivierbedding is ook gevaarsones.

Wees op jou hoede in die omgewing van Africa Day Bar, Malakadraai en langs Shanghai- en Mikka Simbulistraat. Natis en die grondpad agter die Van Eck-kragstasie is gebiede waar misdaad seëvier, saam met die Black Chain-, die Red Cross- en die Monte Christo-inkoopsentrum.

In die middestad waarsku die stadspolisie om by Wernhil Park- en Maerua Mall-inkoopsentrum en Auspannplatz in hul pasoppens te wees, terwyl Tauben Glen, Woermann Brock in Hochland Park en Westlane-inkoopsentrum in Pionierspark Uitbreiding 1 ook gevaarlik kan wees.

Die Bains-inkoopsentrum in Pionierspark, Grove Mall en Gamsastraat in Kleine Kuppe, die Unam-kampus se noordelike hek, Auas Valley, die hele Dorado Valley, en die gebied om Nust word ook as gevaarpunte gelys.

Verder is Windhoek-Noord, Academia, Cimbebasia, Auasblick, Suiderhof en in die omgewing van Olympia se Lolo Park bekend vir huisinbrake en rooftogte.

In Eros noem die stadspolisie dat Zingler-, Gathemann- en Amasonietstraat, die Andreas-grondpad en die parkeerterrein voor Nampost gevaarpunte is. Ludwigsdorf se Dr. Kwame Nkrumah- en Leniestraat word ook gelys vir huisinbrake. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!