Ramaphosa-geld vloei glo na Namibië

Gesteelde miljoene na bewering die land ingesmokkel
'n Goedgeplaaste bron beweer Namibiërs was na bewering betrokke by die diefstal van miljoene Amerikaanse dollar op pres. Cyril Ramaphosa se wildplaas.
Ronelle Rademeyer
Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa het gister beweringe van misdadige optrede ontken.

In ‘n verklaring deur die presidensie sê hy daar is geen gronde in die klagte wat deur mnr. Arthur Fraser, die omstrede voormalige spioenbaas wat later direkteur-generaal van korrektiewe dienste geword het, teen hom ingedien is nie.

Die presidensie bevestig in die verklaring daar was wel ’n rooftog op sy Phala Phala-wildplaas in Limpopo “op of rondom 9 Februarie 2020” toe geld wat uit wildverkope verdien is, voete gekry het.

Fraser het Woensdag klagte van geldwassery, regsverydeling en ontvoering by die Rosebank-polisiekantoor teen hom ingedien. In sy verklaring sê hy dit hou verband met diefstal van “meer as US$4 miljoen” op Ramaphosa se plaas.

Republikein het verlede jaar berig Amerikaanse dollar wat na bewering by ’n hooggeplaaste Suid-Afrikaanse politikus gesteel is, het glo hul weg na Namibië gevind.

Die geld is na bewering gebruik om eiendom in die Omusatistreek te koop, asook om luukse voertuie en ander luukshede aan te skaf.

Die hoof van die Namibiese polisie, genl. Sebastian Ndeitunga, het by navraag erken ondersoek is ingestel om vas te stel of David Immanuel (36), wat op 12 Junie 2020 die Oranjerivier by Rooiwal naby Noordoewer onwettig oorgesteek het, by dié geldwassery in Namibië betrokke was.

David is in Windhoek deur die polisie aangekeer nadat hy deur mnr. Paulus Ngalangi, voormalige finansiële hoof van Fishcor op Lüderitz, en sers. Hendrik Nghede Hidipo, op Noordoewer opgelaai en na Windhoek gebring is,

Immanuel is ’n gebore Namibiër, maar woon reeds jare lank in Suid-Afrika en beskik oor Suid-Afrikaanse burgerskap. Hy was volgens inligting in die private sekuriteitsbedryf in die buurland werksaam.

Volgens ’n ingeligte bron in Suid-Afrika is saamgespan om Amerikaanse dollar by ’n bekende politikus te steel nadat inligting oor die geld uitgelek het.

Republikein het op goeie gesag verneem ’n Oshiwambo-vrou wat op die plaas werksaam was, het bewus geword van Amerikaanse dollar wat in ’n sofa versteek was.

Sy het na bewering haar broer en Immanuel daaroor ingelig. Hulle het glo drie dae lank op Bela-Bela beplan hoe hulle te werk sal gaan om die geld te steel.

Immanuel is ’n gebore Namibiër, maar woon reeds jare lank in Suid-Afrika en beskik oor Suid-Afrikaanse burgerskap. Hy was volgens inligting in die Suid-Afrikanse weermag en het later in die private sekuriteitsbedryf in die buurland gewerk.

Dit blyk uit inligting in Republikein se besit Immanuel se ID-nommer, 8407055307085 I, stem ooreen met dié van ene Imanuwela David, wat as private sekuriteitswag by die Suid-Afrikaanse regulerende owerheid vir die private sekuriteitsbedryf, PSIRA, geregistreer is.

Ndeitunga het verlede jaar by navraag aan Republikein gesê daar was vermoedens dat geld wat in Suid-Afrika gesteel is, in Namibië gewas is – onder meer deur eiendom in die Omusatistreek te koop. “Daar was ook sprake van voertuie wat gekoop is. Maar ons kon hom (Immanuel) nie direk met die bewering verbind nie,” sê hy.

Die polisiebaas het egter gesê hy dra nie kennis van die diefstal van geld op die plaas van ’n Suid-Afrikaanse hooggeplaaste nie.

Immanuel, wat op sosialemedia-platforms soos Facebook en Instagram die naam Imanuwela David gebruik, is op 13 November verlede jaar in die landdroshof op Noordoewer tot N$20 000 beboet nadat hy skuld beken het op die twee klagte wat ná sy inhegtenisneming teen hom ingedien is.

Die een klag was vir ’n oortreding van die Immigrasiewet en die ander het verband gehou met die feit dat hy nie die Amerikaanse dollar en ander items in sy besit by Doeane en Aksyns verklaar het toe hy die land binnegekom het nie.

Benewens elf US$100-note, is ’n Rolex-horlosie ter waarde van N$280 000, ’n TAG Heuer-horlosie ter waarde van N$28 000, verskeie selfone en ’n goue ketting met ’n Krugerrand daaraan by hom gevind toe hy op 13 Junie deur die polisie in Windhoek in hegtenis geneem is.

Dit blyk uit inligting deur ‘n betroubare bron van die gesteelde geld is na bewering vóór die grendeltyd in 2020 oor die grens na Namibië gesmokkel. Dit was na bewering in die deurpanele van ’n voertuig versteek.

Die vermoede is dat Immanuel die Oranjerivier skelm oorgesteek en na Namibië gekom het, om die Suid-Afrikaanse owerhede te ontduik, meen ‘n bron na aan die ondersoek.

FRASER SE BEWERINGE

Volgens die verklaring deur die presidensie het Ramaphosa deur die media van Fraser se beskuldigings bewus geword.

“Pres. Ramaphosa sê onomwonde daar is geen gronde vir die bewering van misdadige optrede teen hom in Fraser se verklaring nie.

“Die president het ’n beraad van die Afrika-unie in Addis Ababa bygewoon toe die voorval gebeur het.

“Toe die president bewus gemaak is van die roof, het hy die voorval aan die presidensiële beskermingseenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir ondersoek gerapporteer,” lui die verklaring.

Fraser het Woensdag op sosiale media beweer Ramaphosa het ’n misdaad probeer verdoesel en die oortreders betaal om te swyg.

Immanuel is ná die hofverrigtinge verlede jaar op Noordoewer aan die immigrasie-owerheid by die grenspos oorhandig sodat hy na Suid-Afrika gedeporteer kon word.

Toe Republikein hom telefonies oor die beweringe uitvra, het hy gesê hy dra nie kennis daarvan nie en het ontken dat hy by ongerymdhede betrokke was.

Hy het egter kort daarna teruggebel en vir ’n ontmoeting in persoon gevra. Op ’n vraag hoe dit sou moontlik wees aangesien hy hom in Suid-Afrika bevind, het hy gesê hy gesê hy is terug in Windhoek. –[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!