IN HOSPITAL: Nico Rebebe
Photo: Contributed
IN HOSPITAL: Nico Rebebe Photo: Contributed

Rebebe ‘nog nie aangekla’

Steeds in hospitaal
Die voormalige voortvlugtige van die gereg, Nico Rebebe, is kort ná sy inhegtenisname in die hospitaal opgeneem en kon nog nie in die hof verskyn nie.
Kenya Kambowe
Kenya Kambowe – Die bankwerker wat na bewering sowat N$2 miljoen by sy werkgewer Bank Windhoek gesteel het, Nico Rebebe, is steeds in die hospitaal en is nog nie amptelik van enige oortredings aangekla nie.

Die polisiebevelvoerder in die Kunenestreek, komm. James Nderura, het bevestig dat Rebebe eers aangekla sal word wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word, waarna hy in die hof sal verskyn.

Rebebe moes Vrydag in die Opuwo-landdroshof verskyn het, maar kon nie aangesien hy steeds in die hospitaal was.

DIABEET

Byna agt weke nadat hy verdwyn het, het Rebebe homself verlede week aan die Namibiese polisie oorgegee nadat hy glo nie meer medikasie gehad het om sy diabetes te bestuur nie.

Nderura het ook bevestig dat Rebebe kort ná sy arrestasie in die hospitaal opgeneem is.

Rebebe word daarvan beskuldig dat hy op 13 Januarie vanjaar N$2 miljoen van Bank Windhoek se Opuwo-tak, waar hy werksaam was, gesteel het.

Bank Windhoek het aanvanklik aan die polisie gesê hy het N$200 miljoen gevat, maar later gesê die werklike bedrag wat gesteel is, was minder as N$2 miljoen.

Terwyl beide die plaaslike polisie en Interpol warm op sy spoor was sedert sy verdwyning in Januarie, het Rebebe glo verlede week terug na Opuwo gekeer en na sy vriendin se huis gegaan. Hy het die polisie ingelig dat homself wil oorgee.

’n Bron het verlede week aan Republikein se susterkoerant Namibian Sun gesê Rebebe het homself oorgegee aangesien sy medikasie om sy diabetes te bestuur, opgeraak het.

“Hy is onmiddellik onder swaar polisiebewaking na die hospitaal geneem. Hy het soontoe gegaan om vir diabetes behandel te word en om ander toetse te ondergaan,” het die bron gesê.

ONTKEN

Rebebe het glo tot dusver aan die polisie gesê hy het niks met die beweerde diefstal te doen gehad nie.

“Hy ontken enige betrokkenheid by die diefstal en bedrog. Hy ontken ook dat hy die een was wat die kameras afgeskakel het [...] Hy beweer dat hy sy werkgewer in kennis gestel het van sy siekte en dat hy weggaan vir behandeling,” het ’n polisiebeampte gesê.

NOG AGT IN HEGTENIS

Hoewel Bank Windhoek later gesê het Rebebe het minder as N$2 miljoen gesteel, is sowat N$2,1 miljoen in bankrekeninge van ses mans van Rundu gevind, wat Rebebe na bewering mislei het om bankrekeninge oop te maak sodat hy glo vir hulle salarisse vir plaaswerk kan inbetaal.

Hy het glo hul bankkaarte gehou om te verseker dat hulle nie toegang tot die geld het nie, waarna hy na bewering groot bedrae geld in die rekeninge betaal het – sommige so hoog as N$500 000.

Rebebe is as ’n administratiewe klerk aangestel, ’n pos wat hom na bewering toegang tot die bank se geld gegee het.

Agt mense – wie se bankrekeninge deur Rebebe gebruik is om die beweerde gesteelde geld oor te plaas – is intussen in hegtenis geneem. Van die agt is twee in Opuwo in hegtenis geneem en ses in Rundu.

Op die dag van sy verdwyning het Rebebe na bewering die bank met ’n rugsak verlaat wat glo sowat N$500 000 kontant ingehad het.

’n Daaropvolgende ondersoek het Rebebe se beweerde “wilde” sosiale lewe ontbloot, wat vermoedelik die motivering vir sy beweerde misdaad was. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!