Rehoboth se onderwêreld van dwelmhandel

’n Nimmereindigende siklus
Die kwessie van dwelmhandel en -misbruik in die suidelike dorp word vererger deur talle maatskaplike kwessies, veral werkloosheid.
Jemima Beukes
Die erf is vol lewe – kinders hardloop rond en speel, terwyl ouer meisies babas op hul heupe ronddra, die babas behoort óf aan kliënte óf die dwelmhandelaar self.

Aan die verste punt, langs ’n ongeverfde baksteenmuur, kom dwelmverslaafdes bymekaar om ’n mengsel van dagga en Mandrax deur gebreekte bottelnekke in te asem. Hulle noem dit “kop skiet”.

Nie lank daarna val hulle van hul baksteenstoele af en stort inmekaar.

Slegs vyf meter verder, onder die skaduwee van ’n groot kameeldoringboom, sit nog ’n groep mense. Meer moderne kliënte – mans met geoliede, krullerige hare, geparfumeerde Polo-hemde en nuwe Vans- of Ellesse-tekkies – kom bymekaar, drink en gesels.

Ek word ’n houtstoeltjie aangebied en ek kom van aangesig tot aangesig met een van Rehoboth se mees gevreesde dwelmhandelaar te staan.

Boemelaars kom sleepvoet aangestap, ander stoot vervalle rolstoele. Daar is selfs jong meisies met lang wimpers en iPhone 15’s in die hand. Hulle soek “balie-skunk”.

Die handelaar werk vinnig en haal die dwelms uit sy sakke, terwyl sy maat met ’n baba op haar skoot, toesig hou oor die bedrywighede. Die verslaafdes wat nie kontant kan betaal nie, vee die erf of meet tradisionele bier uit. Dit is so allerdaags, ’n onopgeleide oog sou die hele transaksie miskyk.



’N LEWE VAN MISDAAD

John*, een van Rehoboth se voorste dwelmhandelaars, beweer hy wil nie meer in hierdie bedryf wees nie, maar tussen ’n huis sonder kos en die aanloklikheid van vinnige geld, sien hy geen uitweg nie.

“Ek het as kind begin dwelms gebruik,” sê hy en verduidelik hoe hy op die ouderdom van 13 in die tronk beland het nadat hy by ’n bungalow by Reho Spa ingebreek het.

Toe hy ’n jaar later vrygelaat is, het hy ontdek dat sy oom met Mandrax en dagga smokkel. Dit was ’n keerpunt in sy lewe.

“Ek het sy wegsteekplekke leer ken. Hoe om die Mandrax te stash wanneer die polisie toeslaan. Wat om te doen, wat om te sê. Hy het my vertrou. Ek het sy butler geword en die ropes geleer.

“Toe ek terug tronk toe gegaan het, het ek selfs meer geweet. Toe ek uitgekom het, was my oom nog in die besigheid, en ek het die geld belê wat ek uit huisinbrake gemaak het. Hierdie speletjie het geld. Dit is soos ’n winkel – mense beweeg in en uit.”

Soos baie handelaars, bedryf John sy besigheid uit sy oorlede ouers se huis, ’n huis wat hy met sy broer en sy eie groeiende gesin deel.

Hy lag wanneer hy onthou hoe hy eers later in sy lewe kinders begin kry het en dit hom meer gevestig het.

“Daar was nie tyd daarvoor toe ek gesmokkel het nie.”



DESPERAAT

Sy vrou, Martha*, het by hom aangesluit en haar verlede is net so tragies.

Sy het op 14 swanger geraak; beroof van haar onskuld. Nou pleit sy by haar man om hierdie lewe te los.

“Ek wil dit nie meer doen nie,” sê sy, haar stem vol desperaatheid.

“Hy weet die pyn wat sy werk veroorsaak het, selfs binne sy eie familie. Sy sewejarige seun het skunk begin rook terwyl hy nog in doeke was, nadat kliënte of sy ouers grappenderwys daggarook in sy gesig geblaas het.

“Toe hy twee was, het hy vir sy eie joint gevra. Hy sal aggressief raak as hy dit nie kry nie. Nou sukkel hy op skool," vertel die vrou terwyl sy hul baba wieg.

Hul besigheid is besig om sy tol te eis, nie net op hul sedes nie, maar op hul finansies. ’n Gesteelde foon wat vir dwelms verpand is, het die polisie een keer reguit na hul voordeur gelei, en niemand het hulle vir die verlore dwelms vergoed nie.

“Dis nie ’n lewe nie,” sug Martha.

“Mense kom na ons toe en verkoop hul Sondagmiddagete, ’n warm bord wat pas opgedis is. Of ’n skaapboud wat hul ma uitgehaal het om te ontdooi.

“Hulle bring dit hierheen, en ek vat dit. Dan kom daardie selfde ma, met trane in haar oë, op soek na haar gesteelde kos.”



VASGEVANG

John sukkel met gesondheidskwessies – hy het net een long en ly aan erge asma.

Hy beweer hy kan nie ’n ongeskiktheidstoelae kry nie omdat hy ’n “gemerkte man” op Rehoboth is. Selfs die plaasgrond wat hy geërf het, is glo buite sy bereik. Hy meen om dit te omhein en te bestuur, verg geld.

“Ek het probeer om as ’n ambagsman te werk, maar my baas bel altyd vir Martha om te sê ek is siek. Ek kan nie eens ver loop sonder om na my asem te snak nie.”

Martha dring intussen daarop aan dat sy kan werk, maar sy wil hê John moet vir haar voorsien, omdat sy gedwing is om te werk vanaf die oomblik toe sy op 14 geboorte geskenk het.

“Alles vereis geld – selfs om ’n wettige besigheid te begin. Ons sal dwelms moet verkoop om daardie kapitaal in te samel.”

Sy het probeer om kos, sigarette en tradisionele bier te verkoop – enigiets om uit die kloue van dwelmhandel te ontsnap – maar die lewe is duur en elke poging lei terug na dieselfde strik.



JONGMENSE

Hy beweer hy verkoop net dagga en Mandrax en vermy skunk omdat skoolkinders in hul uniforms kom, en bure foto’s vir Facebook neem.

Hy weier ook om dwelms aan jonger kinders te verkoop aangesien hul ouers aan sy deur kom klop.

In die breër Rehoboth-dwelmprentjie is die situasie selfs donkerder.

Die herstelde verslaafde Ricardo Mathys, die stigter van Soldiers for Christ, verduidelik hoe dwelmverkopers minderjariges as “butlers” gebruik om ernstige regsgevolge te vermy.

“Die polisie sal hulle net in hul ouers se sorg vrylaat – daar is geen gevolge vir die handelaar nie.”

Talle desperate jong meisies is bereid om hul liggame vir dwelms te verkoop.

“Die handelaar raak nie eens aan hulle nie,” verduidelik Mathys.

“Hy gee hulle vir sy butlers. Soms is daar ses mans in daardie huis. Sy sal nie weerstand bied nie – sy wil daardie rock hê.”

By “Die Gat”, ’n berugte dwelmplek, ontken die handelaar botweg sy betrokkenheid.

“Ek weet niks nie. Wie het jou hierheen gestuur?”

Maar ná ’n pouse prewel hy: “Jy kan self sien – daar is geen werk nie.”

By “Mama Grey” se huis, slegs sowat 500 meter van die Hoërskool M&K Gertze, stroom kliënte na bewering na die “Queen of Rocks” vir onder meer crack-kokaïen.

Sy weier om te praat, maar bestuur glo ’n besigheid wat voorsiening maak vir leerlinge, bankiers, prokureurs en selfs wetstoepassers. Haar “butlers” – jong seuns – word na bewering opgelei om dwelms te sluk of weg te steek wanneer die polisie opdaag.



’n NIMMEREINDIGENDE SIKLUS

Terug by John en Martha se huis is dit besig om donker te word.

Die huis is gevul met die reuk van bouers wat van die werk afkom, met stof wat nog aan hul hande kleef. ’n Maer jong man met ingesakte oë staan met Sunlight-seep en ’n paar teesakkies in sy hande – sy enigste geldeenheid.

Die transaksies is vinnig, amper onmerkbaar. ’n Vinnige kyk en ’n handdruk. Die dwelms verruil hande.

Toe, chaos.’n Skaduwee spring van agter ’n halfgeboude muur uit.

“Die gattas is hier!”

Die dwelmhandelaar se vrou druk haar baba in ’n vriendin se arms en ons vlug die donkerte in. Die buurtwag se voertuig ry verby, maar teen daardie tyd het alle bewyse verdwyn. Die dwelms, die dagga – alles is weg.



GEEN UITWEG?

John weet die stelsel is gemanipuleer.

“As die regering ernstig was, sou hulle werklike padblokkades met skandeermasjiene opgestel het,” meen hy.

Hy beskryf hoe dwelms deurglip: tablette wat in busse se paneelborde versteek is, crack-kokaïen wat intern deur koeriers vervoer word. Selfs vervoerbestuurders, wat onderbetaald en desperaat is, word ingespan vir maklike kontant.

Intussen, terug in Rehoboth, steek verslaafdes hul pype onder ’n boom op en stort in ’n bedwelmde toestand inmekaar. ’n Handelaar druk Mandrax onder sy hakskeen in, en berei nog ’n pyp voor.

Op die ou einde herhaal die siklus homself. Die geld vloei, die verslaafdes keer terug, en nog ’n ma huil oor haar verlore kind.

*Skuilname

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 30° Oshakati: 21° | 30° Ruacana: 19° | 27° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 18° | 32° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 29° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 18° | 22° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 14:54, High tide: 08:30, Low Tide: 02:00, High tide: 21:12 Swakopmund: 18° | 18° Wind speed: 22km/h, Wind direction: SW, Low tide: 14:52, High tide: 08:28, Low Tide: 02:00, High tide: 21:10 Walvis Bay: 18° | 23° Wind speed: 25km/h, Wind direction: SW, Low tide: 14:52, High tide: 08:27, Low Tide: 02:00, High tide: 21:09 Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 21° | 33° Keetmanshoop: 20° | 33° Aranos: 23° | 34° Lüderitz: 17° | 32° Ariamsvlei: 22° | 33° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 35° Lubumbashi: 17° | 18° Mbabane: 19° | 25° Maseru: 16° | 23° Antananarivo: 18° | 22° Lilongwe: 17° | 28° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 19° | 29° Cape Town: 17° | 23° Durban: 20° | 23° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 16° | 30° #VALUE! #VALUE!