Suider-Afrika ervaar die grootste uitdagings met fauna-misdaad. FOTO VERSKAF
Suider-Afrika ervaar die grootste uitdagings met fauna-misdaad. FOTO VERSKAF

Relatief min misdaad in Namibië

Lae telling vir wetstoepassing, regstelsel
Ten spyte daarvan dat Namibië een van die lande in Afrika is wat die minste misdaad ervaar, moet baie nog gedoen word om onder meer wetstoepassing te verbeter.
Elvira Hattingh
Namibië is een van die lande in Afrika waar misdaad die minste voorkom, met ֹ’n misdaadtelling van slegs 4,3 uit 10. Net sewe ander Afrikalande het laer misdaadvlakke.

Daarbenewens kon Namibië daarin slaag om die syfer oor die afgelope jaar met 0,3% te laat krimp.

Dit aldus die Afrika-indeks vir Georganiseerde Misdaad vir 2023, wat op 24 November vanjaar amptelik vrygestel is. Namibië is 47ste op die lys van 54 Afrikalande, waar die eerste plek die land verteenwoordig wat die ergste onder misdaad deurloop.

Die indeks word opgestel deur onder meer Interpol, die Instituut vir Sekuriteitstudies (ISS) asook die Globale Inisiatief teen Transnasionale Georganiseerde Misdaad en word deur die Europese Unie (EU) gefinansier.

Dit kom ten spyte daarvan dat Namibië net 4,54 uit 10 ontvang het vir veerkragtigheid teen misdaad. In terme hiervan het wetstoepassing net 3,5 uit 10 punte ontvang, die regstelsel 4 uit 10, politieke leierskap en –bestuur 4,5 uit 10 en die regering se betroubaarheid en deursigtigheid ook net 4 uit 10.

Namibië word egter uitgesonder as een van die lande waar ’n aktiewe burgerlike samelewing en die vryheid van die media help met veerkragtigheid teen misdaad. Die land beskik ook oor uitstekende internasionale samewerking en het 7 uit 10 hiervoor gekry, terwyl plaaslike beleide en -wette goed ontwikkel is (6/10).

BUITELANDSE ELEMENTE

Tog blyk dit dat buitelandse misdaadelemente ’n kopseer vir Namibië veroorsaak, naas misdaadnetwerke en -elemente in die staat ook ’n kwessie blyk te wees.

Soos die groter streek, loop Namibië ook deur onder misdaad as dit by plant- (6,5/10) en diereprodukte (5,5/10) kom, met ’n lae telling as dit by die bekamping van en veerkragtigheid teen misdaad kom.

Namibië vergelyk egter gunstig teen bykans al die lande in Suider-Afrika, met slegs Lesotho se misdaadtelling wat laer as die van Namibië is met 3,97/10. Daarteenoor staan die misdaadtellings van lande soos Suid-Afrika (7,18/10), Mosambiek (6,2/10), Zimbabwe (5,47/10), Zambië (4,73/10) en selfs Botswana (4,35/10) veel hoër as Namibië s’n.

Suid-Afrika is derde op die indeks van Afrikalande met die meeste misdaad, met die Demokratiese Republiek die Kongo wat eerste is en Nigerië in die tweede plek.

Die Afrikaland waar die heel minste misdaad voorkom, is klaarblyklik die eilande Sao Tomé en Principe, dan Ruanda en dan Seychelle.

STREEK

Suider-Afrika is die streek in Afrika wat die heel laagste vlakke van misdaad het, ten spyte daarvan dat sekere individuele lande binne die streek hoog op die misdaadtelling meet.

Die indeks het vanjaar ’n punt van 4,83 uit 10 aan die hele streek toegeken.

Suider-Afrika word die ergste gekasty deur fauna-misdade (misdade as dit by diere en -produkte kom), waarskynlik juis omdat dit een van die wêreld se grootste tuiste van wilde diere is. Geldelike misdade is die tweede grootste misdaadbedryf in die streek, met ’n wydverspreide voorkoms van geldverduistering, bedrog en belastingontduiking.

Dit is egter kommerwekkend dat die algemeenste misdadiger in die streek klaarblyklik aan die staat verbonde is. Namibië het ’n telling van 5 uit 10 hiervoor, met buitelandse misdaadelemente en -netwerke wat ’n erger kopseer is en waarvoor ’n misdaadtelling van onderskeidelik 6 uit 10 en 5,5 uit 10 toegeken is.

FAUNA

Volgens die verslag is dit hoofsaaklik georganiseerde misdaadsindikate, meestal van lande in die suidooste van Asië, wat saam met plaaslike verteenwoordigers en korrupte amptenare werk om hoogs georganiseerde roetes te vestig vir die smokkel van wildprodukte na die suidooste van Asië.

Terwyl fauna-misdade ’n tydelike onderbreking tydens die Covid-19-pandemie ervaar het, het dit egter tussen 2021 en 2023 met 0,3% toegeneem. Alle lande in Suider-Afrika, met die uitsondering van Lesotho en Mauritius, ervaar hoë vlakke van fauna-misdaad.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer