Roofbende voor hof

Polisie kry N$55 800 terug
Die staat staan borgtog teë aangesien al sewe verdagtes reeds hangende sake vir soortgelyke misdade teen hulle aanhangig het.
Augetto Graig
Die sewe mans wat van gewapende rooftogte by die Maerua-inkoopsentrum in Windhoek beskuldig word, het gister voor landdros Desire Kamboua verskyn.

Die bende se modus operandi was glo om sakemense te teiken wat op pad was om kontant by banke in die inkoopsentrum te deponeer.

Mnre. Andreas Abed en Fillemon Iyambo staan tereg op klagte van die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

Al sewe – mnre. Petrus Ileka, Martin Shilongo, Rainhold Shikongo, Pandeinge Shivute en Johannes Teofelas is die ander – staan tereg op twee klagte van gewapende roof.

Staatsaanklaer Tatelo Lusepani het borgtog teengestaan weens hangende sake vir soortgelyke klagte teen al sewe beskuldiges en dat hulle waarskynlik met die ondersoek sal inmeng.

Hy sê om borgtog aan die beskuldigdes toe te staan, sal nie in openbare belang óf die belang van geregtigheid wees nie.

Kamboua het die saak tot 20 Mei uitgestel vir verdere ondersoek, en om vir Teofelas, Shikongo, Shilongo en Ileka die geleentheid te gee om vir regshulp aansoek te doen.

Iyambo, Shivute en Abed het aangedui hulle sal hul eie verdediging behartig.

’n Gesamentlike taakmag bestaande uit lede van die Namibiese polisie en die Windhoekse stadspolisie het die sewe beskuldigdes in hegtenis geneem.

In die eerste voorval op Maandag 17 Januarie het vyf van die beskuldigdes na bewering ’n man (34) tot by die sentrum agtervolg en is hy met ’n vuurwapen gedreig en twee skote is afgevuur. Die bende het altesaam N$505 000 gebuit.

Die tweede insident het laas week Maandag plaasgevind. ’n Jong vrou (27) en haar sakekollega is tydens die voorval van N$162 000 kontant beroof. Vier mans met swart kappies (hoodies) en maskers het hulle glo by die ingang aangeval. Een verdagte het ’n vuurwapen gehad en ’n skoot is afgevuur.

Volgens die polisie se nuutste inligting is Shilongo met N$16 000 kontant in sy besit in hegtenis geneem terwyl hy na die Noorde probeer vlug het. By sy huis in Havana is ’n bykomende N$13 100 gevind.

Altesaam N$55 800 kontant is verhaal. Een pistool is ook gekry en geïdentifiseer as dieselfde vuurwapen wat in die eerste voorval gebruik is.

Die polisie het ook beslag gelê op ’n rooi Polo-sedanvoertuig wat glo met die geld van die Januarie-rooftog gekoop is. So ook in die geval van ’n silwer Polo wat gekonfiskeer is.

Op nog ’n silwer Toyota Corolla Quest-sedanvoertuig is ook beslag gelê nadat dit na bewering in beide voorvalle gebruik is.

Die Toyota behoort aan Teofelas se ma. Hy het glo nuwe bande en vellings (rims) vir haar voertuig met sy deel van die eerste gesteelde kontant gekoop.

Volgens die polisie het die bende ná ’n rooftog eers na Teofelas se ma se huis gery en haar voertuig daar gelos. Daarna het hulle met Shivute se Honda-taxi (V404) na ’n ander plek gery om die geld onder mekaar te verdeel, en het daarna uitmekaar gegaan. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!