Gewapende mans het Maandagoggend sowat N$250 000 by Scrap Salvage in die hoofstad geroof. Foto scrapsalvagenam.com
Gewapende mans het Maandagoggend sowat N$250 000 by Scrap Salvage in die hoofstad geroof. Foto scrapsalvagenam.com

Rowers slaan by skrootwerf toe

N$250 00 kontant afgevat
Skote klap helder oordag, gewapende boewe stook voertuig met rotse
Augetto Graig
“Toe ons inry, volg hulle ons en onmiddellik is ons met vuurwapens gedreig. Ons het die geld oorhandig en hulle het weggehardloop,” vertel mnr. Winton Geyser (62), uitvoerende direkteur van die Epic-groep, eienaars van die reeks Scrap Salvage skrootbergingsbesighede landswyd.

Die gewapende roof het Maandagoggend omstreeks tien voor elf by Scrap Salvage se perseel in Edisonstraat in Windhoek se suidelike nywerheidsgebied plaasgevind.

“Dit was als so vinnig,” sê Geyser, wat saam met sy kollega deur twee gewapende boewe beroof is.

“Hulle het uitgehardloop na my kar en dit begin skiet, en met klippe bestook. Ek was toe al in die aankopekantoor en kon met die afstandbeheerknoppie in my sak die kardeur oopsluit. Hulle het die deur oopgemaak en die geld wat in die kar was ook gevat. Dit was nie ’n groot bedrag nie. Toe spring hulle in die wegkommotor en dit was verby.”

Nampol se woordvoerder adjudant Silas Shipandeni sê die polisie vermoed minstens drie rowers was betrokke, maar dat nog iemand dalk saam met die bestuurder in die wegkommotor kon wees.

Hy sê dit blyk die rowers was ingelig, omdat Geyser juis op daardie tydstip van die bank af teruggekeer het met kontant vir die kleinkas se aankope.

Die polisieverslag verwys na die voorval van roof van N$250 000met verswarende omstandighede. Die sekuriteitskameras se beeldmateriaal wys glo hoe die skurke voor die besigheid vir Geyser en sy metgesel ingewag het; hoe vinnig hulle die twee mans aangeval het en hoe hulle verskeie skote laat klap het, waarvan twee koeëls in Geyser se voertuig vasgesit het.

Hul silwer Volkswagan Polo sedan ontsnapvoertuig kan ook gesien word. Volgens Nampol is die registrasiemerk N966663W vervals en bestaan nie op die registrasiestelsel nie.

Enige iemand met inligting wat tot die vastrek van die rowers kan lei, word aangemoedig om hoofinspekteur Simeon Ngilalulwa op 081 256 0988 te kontak. Geyser sê Scrap Salvage sal ook ’n aansienlike beloning bied.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!