Sakeman se moord nog duister

Polisie het tans nie ‘baie leidrade’ nie
'n Familielid het die 63-jarige mnr. Tillian Walters op 25 Mei 2016 in sy huis op Karasburg gevind waar hy vasgebind in sy kamer gelê het.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Ses jaar ná die moord op ’n bekende inwoner en sakeman van die Suide, is niemand nog in hegtenis geneem nie en sloer die saak steeds.

Die 63-jarige mnr. Tillian Walters, die eienaar van ’n drankwinkel en slaghuis op Karasburg, is op Afrikadag (25 Mei) 2016 deur ’n familielid in sy huis gevind waar hy vasgebind in sy kamer gelê het. Tillian was ten tyde van die voorval alleen by die huis.

Hy is per ambulans en vliegtuig na ’n hospitaal in Kimberley geneem waar hy tot en met sy dood in ’n koma was. Sy bakkie waarmee die aanvallers gevlug het, is later sowat 23 km buite Keetmanshoop op die pad na Grünau gevind.

Sy familie het verlede jaar in ’n poging om die ondersoek ’n hupstoot te gee, ’n beloning van N$50 000 uitgeloof vir enige inligting wat kan help om die skuldiges vas te trek. Aanvanklik is een van Tillian se werknemers, mnr. Desmond Vries, en mnr. Daniel Nuyoma op aanklagte van gewapende roof, poging tot moord en diefstal in hegtenis geneem, maar is later weer vrygelaat. Geen van die kontant wat gebuit is, is teruggevind nie. Die saak is ook tydelik van die rol geskrap.

Tillian se broer, Andrew, wat op hom in sy huis afgekom het waar hy vasgebind was, sê tot op hede kon die familie nog geen afsluiting kry nie en “is daar niks” met die ondersoek aan die gang nie. DNS-toetse kon volgens hom ook nie aanvanklike verdagtes met die moord op sy broer verbind nie.

“Daar is nog geen nuwe leidrade nie. Volgens polisiebeamptes waarmee ons gepraat het, mag die DNS glo nie meer geneem word van mense wat in verklarings genoem word nie. Die polisie kan glo ook nie agterna verklarings van enige verdagtes neem nie. Daar is baie teenstrydighede in die verklaring,” het ’n moedelose Andrew gesê.

Tillian se seun, Gershwin, het vroeër beweer die saak is van die rol geskrap omdat die ondersoekbeampte volgens hom nooit by die hof opgedaag en die dossier glo voete gekry het. Na bewering was daar baie Suid-Afrikaanse banknote tydens die aanval in die huis. Tillain sou die oggend wat hy vasgebind in sy huis gevind is, na Upington vir aankope vertrek het.

Die koördineerder van misdaadondersoeke in die ||Kharasstreek, adj. komm. Crispin Mubebo, het by navraag bevestig die ondersoek duur steeds voort. Hy het erken die klagte teen aanvanklike verdagtes is intussen teruggetrek. Volgens Mubebo het die polisie tans nie “baie leidrade” nie.

Enige persoon wat kan help met die ondersoek of verdere inligting kan verskaf, kan Andrew by 081 124 7526 of Gershwin by 081 273 1021 kontak.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!