Adjunkkommissaris Veikko Armas. Foto verskaf
Adjunkkommissaris Veikko Armas. Foto verskaf

Selfone, dwelms by tronk ingesmokkel

Ellanie Smit
Tussen Januarie en April is 95 selfone, 101 pakkies dagga, 33 sakkies crack-kokaïen, agt mandrax-tablette en 75 sakkies tabak in die Windhoek Sentrale Gevangenis gevind.

Dit volgens adjunkkommissaris Veikko Armas, wat oor die tronk se veldtog teen smokkelary gepraat het.

Hy het gesê sommige van die gesmokkelde items is gevind toe die tronk deursoek is of in besendings wat by die fasiliteit afgelaai of geplant is, terwyl ander items by openbare plekke soos hospitale, howe en skole onderskep is.

“Sommige van hierdie items is onderskep voordat dit die tronk kon binnegaan, veral tydens eksterne patrollies wat die beamptes rondom die fasiliteit uitgevoer het, aangesien dwelms dikwels in hierdie gebiede geplant word deur diegene wat saam met gevangenes werk.”

Die veldtog het ten doel om die toenemende smokkelary van verbode items na korrektiewe fasiliteite te bekamp.

“’n Kommerwekkende toename in gesmokkelde items wat deur korrektiewe beamptes/personeel, oortreders en soms niksvermoedende lede van die publiek by die fasiliteit ingesmokkel word, het hierdie veldtog genoodsaak,” het Armas gesê.

AANSIENLIKE BEDREIGING

Volgens hom hou dié smokkelary ‘n wesenlike bedreiging in vir die mandaat van die Namibiese Korrektiewe Dienste – wat die verskaffing van veilige en menslike omstandighede aan gevangenes behels.

“Oortreders kan hierdie onwettige items soos selfone, dwelms en wapens gebruik om geweld teen beamptes, medegevangenes en lede van die publiek voort te sit. Oortreders kan dit ook gebruik om betrokke te raak by kriminele bedrywighede, soos om ondergrondse ekonomieë te skep en bestaande dwelmverslawing onder oortreders te vererger.”

Hy het bygevoeg smokkelary in korrektiewe fasiliteite hou ‘n bedreiging vir die veiligheid van korrektiewe personeel, gevangenes en die publiek in.

“Die gereelde konfiskering van gesmokkelde goedere noodsaak die fasiliteit om na ons belanghebbendes uit te reik en hulle te onderrig oor die nadelige uitwerking wat smokkelary op die rehabilitasieprosesse binne korrektiewe fasiliteite het.

“Gesmokkelde goedere sluit alle items in wat die wet binne korrektiewe fasiliteite verbied, soos selfone, alkohol, tabak, dwelms, skerp voorwerpe, wapens en geld.

“Ongelukkig word dit ook ingesmokkel deur ons eie korrektiewe beamptes van wie verwag word om hul pligte in die beste belang van die publiek en oortreders uit te voer,” het hy gesê.

“Aan die ander kant kan gevangenes ook goedere insmokkel deur van hul liggaamsholtes gebruik te maak – waar hulle items by hul rektums insit of dit insluk en later terugkry.”

MELD DIT AAN

Armas het gesê ‘n ander metode wat gebruik word om goedere in te smokkel, is deur familie en vriende wat gevangenes besoek en oorreed word om ongemagtigde items skelm in te bring.

“Gesmokkelde items kan byvoorbeeld in koshouers versteek word, in items soos koffie of brood of dit kan in toiletware geplaas word.”

Hy het beklemtoon die negatiewe gevolge wat met die gebruik van gesmokkelde items en smokkelary geassosieer word, sluit in ‘n toename in onveilige voorvalle, afknouery en geweld.

Enige inligting wat verband hou met smokkelary in korrektiewe fasiliteite kan by 061 284 6512/13 of by die naaste polisiekantoor aangemeld word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!