Slagting van troeteldiere neem toe

Tanja Bause
Vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die perd, Spirit, gesteel, geslag en die vleis verkoop het, is borgtog in die landdroshof op Outjo geweier.

’n Vrou wat die vleis verpak en verkoop het, is vrygelaat aangesien haar kêrel glo die vleis aan haar gegee het om te verkoop. Die kêrel is in hegtenis geneem omdat hy die vleis sonder ’n permit gekoop het.

Spirit, ’n vyfjarige merrie wat 15 dae gelede vanaf ’n plaas 13 kilometer buite Outjo gesteel is, se vleis is op Khorixas gevind.

Volgens ’n emosionele me. Rholeen Zorzetto is Spirit en ’n ouer merrie Woensdag van die plaas gesteel nadat die verdagte die hek na die wildkamp afgebreek het.

“Ek is Sondag in kennis gestel my twee perde is gesteel en het onmiddellik San van Tsumkwe af gekry om spoor te kom sny. Ons het ’n hommeltuig gebruik en per voertuig en perde gaan soek. Ons het verlede week die groot merrie op ’n plaas 60 kilometer buite Outjo gekry en ek het toe tot die besef gekom hulle is gesteel en het ’n klag van diefstal by die polisie aanhangig gemaak.”

Spirit is 100 km verder na Khorixas toe gery en aangejaag. Zoretto het inligting by mense wat daar woon ontvang wat hulle verder gehelp het.

“Ons het Saterdag saam met Outjo en Khorixas se polisie die plek besoek en op die plaas Eastwood die slagplek van Spirit gekry. Daar het ons nog verdere inligting gekry.”

“My seun het saam met die polisie na die plek gegaan waar sy geslag is en hulle het haar hoewe en vel opgespoor. Die polisie het haar nek, kop, bene en rug op Outjo gekry. Ons het twee van die verdagtes 15 kilometer buite Khorixas langs die pad gekry. Die man wat die perde gesteel het en die een wat haar geslag het, is in hegtenis geneem. Hulle is ondervra en het inligting oor die verkoper en koper van die vleis gedeel wat gevolglik ook in hegtenis geneem is. Die vrou wat die vleis verkoop het, het dit vir N$1 500 aangekoop. Hulle het Spirit vir N$1 500 doodgemaak terwyl Spirit N$40 000 werd was en onbetaalbaar baie werd vir ons as dier was.”

Die polisie het beslag op die geld wat die vrou vir die vleis ontvang het, die res van die vleis en die wegkomvoertuig, gelê.

“Liefste Spirit. Jy was ons ou nukkerige merriestert gewees. Ons het nog soveel drome vir jou en Kailey gehad. Jy het hierdie een glad nie verdien nie. Dankie vir vyf ongelooflike jare saam met jou. Ons gaan jou ongelooflik baie mis. Rus sag liefste Spirit,” was die familie se boodskap op Facebook.

Die saak is tot Junie uitgestel.

DAANJIE

Die mak donkie, Daantjie, is sowat sewe jaar gelede op ’n plaas naby Usakos gestroop en sy maat Dorkie ’n jaar later.

Volgens me. Jeanne Koch het sy vir Daantjie op ’n plaas by die water gevind.

“Hy was baie klein en swak. Hy het nog sy naelstring gehad. Ons het hom ingeneem en met die hand grootgemaak. Hy het vir twee jaar by ons huis in Swakopmund gewoon. Wanneer ons winkel toe geloop het, het hy saam gekom en almal het hom geken. Daantjie het saam met ons op die bed geslaap en op my skoot kom lê. Wanneer ons plaas toe gery het, het hy in die voertuig gesit en saamgery. Tot hy te groot geword het en ons hom agter op die bakkie saam met die honde laat ry het. Hy was my kind.”

Toe Daantjie ná twee jaar te groot en te swaar geword het om agter op die bakkie te laai, het hy permanent plaas toe verhuis.

“Ons het vir hom ’n merrie Dorkie gekry en hulle twee was baie mak. Wanneer ons op die plaas was, het hulle op die stoep en in die huis ingekom. Hulle was ons kinders. Toe is eers Daantjie en toe Dorkie gesteel, vermoor en geslag.”

Volgens Koch het hulle in die laaste twee jaar reeds meer as 600 diere weens stropery verloor.

“Verlede week is ’n koedoekoei geskiet. Ons wou haar kalfie vang, maar die kalfie het weggehardloop. Daardie kalf gaan nou ellendig vrek. Die mense ry by die plaas in en stel strikke, steel en skiet ons diere. Ek het al een van my plaaswerkers gevang en toe hy by die hof opdaag toe vind ek uit hy is reeds op borgtog uit vir veediefstal. Ek besef mense is honger, maar jy skiet nie iemand se perd nie. Jy eet nie iemand se kind nie.”

PABLO

Pablo, die 14-jarige hings is op 14 Februarie in Windhoek van die plaas Elisenheim gesteel. Sy kop en voorpote is later in die veld by die informele nedersetting Okahandja Park gevind. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!