Die ontsnapte renosterhoringsmokkel, Wang Hui (48). Foto Verskaf
Die ontsnapte renosterhoringsmokkel, Wang Hui (48). Foto Verskaf

Smokkelaar in renosterhoring op die vlug

Ronelle Rademeyer
Die Chinese renosterhoringsmokkelaar Wang Hui (48) het gister omstreeks 11:00 uit aanhouding ontsnap en was teen druktyd gister nog op die vlug.

Wang het ontsnap toe hy saam met met ’n bewaarder van die Windhoek Sentrale Gevangenis na Brakwater gegaan het om materiaal by ’n verskaffer te gaan oplaai.

Dit is laat gistermiddag deur komm. Michael Mulisa, woordvoerder van korrektiewe dienste, aan Republikein bevestig.

“Hulle het na die verskaffer gegaan om materiaal te kry wat benodig word vir ’n projek van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste waarop die gevangenes werk,” sê hy.

Daar aangekom het Wang gesê hy moet die toilet besoek, waarna hy ontsnap het.

Wang, die meesterbrein van ’n Chinese smokkelsindikaat, dien saam met Li Xiaoling, Li Zhibing en Pu Xuexin tronkstraf van 14 jaar uit, waarvan vyf jaar opgeskort is.

Die vier is in 2014 op die Hosea Kutako Internasionale Lughawe met 14 renosterhorings en een luiperdvel in hul bagasie betrap.

Hulle is in 2016 in die streekhof in Windhoek skuldig bevind aan die onwettige besit van wildprodukte en die onwettige uitvoer van wildprodukte, maar vrygespreek op die hoofaanklag van geldwassery.

Gistermiddag het inligting op nooddiensgroepe gesirkuleer dat hy vermoedelik in ’n Mercedes Benz SLK sonder nommerplate na Swakopmund onderweg is.

Later is inligting ontvang dat hy in ’n bakkie onderweg is na die kus.

Dit kon egter nie deur Mulisa bevestig word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer