Streng borgvoorwaardes vir De Klerk
Ellanie Smit - Die voorvlugtige Fishrot-verdagte Marén de Klerk - wat onlangs sy naam na Michael verander het – se aansoek om borgtog is Vrydag in die landdroshof in die Paarl toegestaan. De Klerk is in Suid-Afrika vasgetrek, waarheen hy gevlug het toe die Fishrot-sage oopgevlek is. Hy is vrygelaat op borgtog van N$50 000 en sy uitleweringsverhoor sal na verwagting op 26 September vanjaar begin.
De Klerk word in Namibië gesoek, waar hy aangekla word van bedrog, geldwassery en rampokkery in verband met die Fishrot-skandaal. Hy het in sy borgtogverhoor sy onskuld in dié sage volgehou en gesê hy het onwetend tot sy medebeskuldigdes se beweerde korrupsie bygedra.
Senior landdros Morajee Naik het beveel dat De Klerk sy Namibiese- en Suid-Afrikaanse paspoorte en reisdokumente aan die Suid-Afrikaanse polisie moet oorhandig. Hy mag ook nie om enige reisdokumente aansoek doen nie, behalwe vir redes om sy teenwoordigheid in Suid-Afrika vir die duur van sy borgtog-tydperk te reguleer.
"Sou De Klerk dit noodsaaklik ag om die departement van binnelandse sake te nader, moet hy sy prokureur kontak - wat die ondersoekbeampte van Interpol, kaptein Willem van der Heever, in kennis sal stel," lui Naik se uitspraak.
Volgens die uitspraak moet De Klerk daagliks tussen 07:00 en 19:00 by die Groot Drakenstein-polisiekantoor, tussen die Paarl en Franschoek, aanmeld.
Die hof het ook beveel dat Van der Heever weeklikse verslae met betrekking tot De Klerk se aanmeldings moet ontvang. De Klerk is ook beveel om nie sy woning op Stellenbosch daagliks tussen 20:00 en 07:00 die volgende oggend te verlaat nie. Hy moet Van der Heever vooraf in kennis stel indien hy van plan is om sy woonadres te verander.
Hy moet ook alle hofverrigtinge bywoon tot die uitleweringsproses afgehandel is. Volgens die Suid-Afrikaanse nuusblad Mail & Guardian het die landdros uitgelig dat De Klerk vrywilliglik onder eed getuig het en gedetailleerde inligting oor sy bewegings in en uit Suid-Afrika oor die afgelope drie jaar verskaf het. Naik het ook daarop gewys dat De Klerk die geleentheid gehad het om te vlug toe hy onder 'n inisiatief vir die beskerming van hokaairoepers in Zanzibar geskuil het, maar dat hy gekies het om na Suid-Afrika te gaan.
Die hof het ook daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Suid-Afrikaanse polisie versuim het om De Klerk in hegtenis te neem nadat 'n lasbrief vir sy arrestasie op 1 Februarie 2022 uitgereik is.
Naik het gesê daar is bewyse dat die NVG en senior lede van die Suid-Afrikaanse polisie kennis gehad het van sy adres en telefoonnommer, aangesien hy die klaer was in 'n strafsaak teen ene Ben van Heerden, waarin De Klerk beweer hy is uit N$3 miljoen verkul.
Christie Viviers, De Klerk se regverteenwoordiger, het aangevoer sy kliënt se inhegtenisname was ongrondwetlik en skend sy regte. Die Suid-Afrikaanse staat het aangevoer indien die borgaansoek toegestaan word, kan dit die Fishrot-verhoor in Namibië vertraag - wat na verwagting in Oktober vanjaar sal afskop.
Dít nadat Van der Heever in 'n verklaring gesê het De Klerk is 'n vlugrisiko en dat hy waarskynlik met onwettige bedrywighede sal voortgaan indien hy op borgtog vrygelaat word.
Die Suid-Afrikaanse staat het ook De Klerk se aansoek om borgtog teengestaan aangesien 'n uitleweringsversoek glo in Januarie vanjaar uit Namibië ontvang is. In sy tuisland staan De Klerk volgens die staat tereg op ernstige aanklagte wat vir hom 'n swaar vonnis kan meebring.
Die Suid-Afrikaanse staatsaanklaer het ook aangevoer De Klerk staar die moontlikheid van lang tronkstraf in die gesig en dat hy moontlik op die vlug kan slaan om sy uitleweringsverrigtinge te probeer ontduik indien hy op borgtog vrygelaat word.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie