Swaarder strawwe vir verkragters

Slagoffer moet ingelig word oor borgtog, voorwaardes
Die wetsontwerp beweeg weg van bewyse wat maklik verlore kan gaan, verkeerd geïnterpreteer word of mee gepeuter kan word.
Henriette Lamprecht
Die verhoging van sekere minimumvonnisse vir verkragters is een van die nuwe bepalings in die wysigingswetsontwerp vir die bekamping van verkragting wat ten doel het om Namibië se epidemiese vlaag van verkragtings hok te slaan.

Die minister van justisie, me Yvonne Dausab, het die wysigingswetsontwerp in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê.

Volgens Dausab is 690 gevalle van verkragting tussen Januarie en Augustus verlede jaar by die Namibiese polisie aangemeld.

“Verkragting het geen plek in ons gemeenskappe, ons huise of enige plek elders in ons land nie,” het sy gesê.

In die huidige wetgewing is daar nege beginsels wat as situasies van dwang gedefinieer word, en sluit die gebruik van fisieke krag, afdreiging, onwettige aanhouding sowel as die ouderdom van die slagoffer in.

Die wetsontwerp sluit ook onder meer die misbruik van mag of gesag waar die slagoffer daarvan weerhou word om sy of haar weerstand of onwilligheid te toon, in. Met verwysing na die vonnisse van verkragters, maak die wetsontwerp voorsiening vir die verhoging van sekere minimumvonnisse.

Volgens Dausab wys statistieke dat streng en lang tronkstraf nie noodwendig voornemende oortreders afskrik nie. “Ons as wetmakers moet verseker wanneer ’n persoon aan verkragting skuldig bevind is en veral onder omstandighede van dwang, hy of sy met die volle omvang van die reg gestraf word,” het sy gesê.

In die wysigingswetsontwerp word die vonnis van ’n eerste oortreding van verkragting van ’n minimum van vyf tot tien jaar verhoog.

Waar die verkragting onder omstandighede van dwang – soos vervat in die huidige wet – plaasvind, word die vonnis nou van tien tot 15 jaar verhoog. Dit verwys ook na “buitensporige, weerlose klaers” wat nou persone met geestelike of fisieke gestremdhede insluit.

Die wetsontwerp verhoog die vonnis van ’n minimum van 15 tot 20 jaar vir oortreders wat aan verkragting skuldig bevind is en waar die slagoffer ernstige liggaamlike of geestelike skade opgedoen het en onder die ouderdom van 13 jaar en juis weens hul ouderdom buitengewoon kwesbaar is.

Vir tweede en herhaalde oortreders verhoog die vonnisse van tien tot 20 jaar, 20 tot 25 jaar en 25 tot 30 jaar. Die minimum vonnisse geld in gelyke maat ook vir poging en sameswering tot aanhitsing om te verkrag.

Die wetsontwerp vra ook van die hof om holistiese bewyse te evalueer voordat ’n vonnis gelewer word en verwys na die afwesigheid van semen, ander liggaamsvloeistowwe op die slagoffer of die afwesigheid van bewyse van die skeur van die maagdevlies.

Dauseb sê die bewyslas in strafregtelike sake rus op die staat wat sonder enige twyfel ’n saak moet bewys.

Dit het daartoe gelei dat talle verkragtings juis hieroor nie bewys kon word nie. Die doel nou is dat daar wegbeweeg word van bewyse wat maklik verlore kan gaan, verkeerd geïnterpreteer kan word of mee gepeuter kan word en om eerder op ’n holistiese ondersoek te fokus. Met verwysing na borgtog vir oortreders, vereis die wysigingswetsontwerp dat die ondersoekbeampte die klaer wat tydens die hofverrigtinge afwesig was, inlig oor of borgtog toegestaan is, al dan nie, die borgtogvoorwaardes, sowel as die datum van enige uitstel van die aansoek om borgtog. Dausab sê die wetsontwerp het ten doel om die fokus op die slagoffer te verhoog. Volgens haar is die ondersteuning van slagoffers en slagoffer-vriendelike howe ’n prioriteit van die ministerie.

In dié verband is die landdroshof in Katutura as ’n hof vir geslagsgebaseerde geweld geïdentifiseer. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer