FOTO UNSPLASH
FOTO UNSPLASH

Tien Namibiese vroue steeds in Oman

Onder valse voorwendsels gelok
Henriette Lamprecht
Tien van die Namibiese vroue wat onder valse voorwendsels deur agente as huiswerkers na die Midde-Ooste gelok is, is steeds in Oman.

Uit die 31 vroue tussen die ouderdomme van 27 en 40 jaar waarvan die Namibiese regering bewus was en deel van ’n ondersoek na beweerde mensehandel vorm, het 21 reeds weer na Namibië teruggekeer.

Volgens die adjunk- eerste minister en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, dr. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het die vroue se families die repatriasiekoste gedra.

’n Kriminele saak is intussen aanhangig gemaak vir die oortreding van die Wet op die bekamping van Mensehandel.

Volgens Nandi-Ndaitwah word die saak ondersoek en wanneer die tyd reg is en bewyse dit aandui, sal ’n arrestasie gemaak word.

“Dit is ’n belangrike saak en die polisie en ander rolspelers is besig om bewyse in te samel en te oorweeg voordat dit op die hofrol geplaas word,” het sy gesê.

Volgens haar het die oorblywende tien vroue aangedui hulle wil so gou as moontlik na Namibië terugkeer. Hul terugkeer hang af van hul families om die vereiste vir onder meer hul reiskostes en visums in te samel.

Nandi-Ndaitwah sê die vroue se werkgewers of borge het aangedui die vroue sal slegs toegelaat word om Oman te verlaat met ontvangs van ’n afkoopbedrag wat wissel tussen N$37 000 en N$50 000.

Die regering het reëlings getref dat al die geraakte vroue met hul aankoms in Namibië deur lede van die Namibiese polisie ontvang en verwys word na maatskaplike werkers verbonde aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste vir psigomaatskaplike ondersteuning en traumaberading voordat hul verklarings afgelê word.

“Dienste vir gesondheidsorg sal ook gereël en by bestaande gesondheidsgeriewe verskaf word.”

Sou langtermynsorg en -ondersteuning van die vroue vereis word, sal maatskaplike werkers in die streke waar die vroue woon vir opvolgbesoeke ook tot hul diens wees. Laasgenoemde is met dien verstande dat besonderhede van hul kontaknommers en woonadres verskaf word.

Nandi-Ndaitwah het beklemtoon die vroue se verklarings oor hul ervaring in Oman sal net verkry word wanneer hul reg is om dit te deel.

Volgens haar is die voorkoms van mensehandel besig om nie net in Namibië nie, maar ook wêreldwyd toe te neem.

“Ekonomiese migrante moet daarvan bewus wees dat die gras nie altyd groener aan die ander kant is nie. Die hele wêreld is in ’n ekonomiese krisis ná die Covid-19-pandemie en ander globale rampe.”

Onder die riglyne van die nasionale komitee vir die bekamping van mensehandel gaan die nasionale bewusmakingsveldtog ook in samewerking met verskeie rolspelers verhoog word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!