No Image Caption

Transitorowers buit N$1,5 miljoen

Geldwa op Walvisbaai beroof
Die polisie sê hulle ondersoek die saak "met selfvertroue" en het 'n beroep op die publiek gedoen om die polisie dringend te kontak as hulle oor meer inligting beskik.
Gewapende verdagtes het Saterdag ‘n geldwa van Namibia Protection Services by MotoVac op Walvisbaai beroof, en het na raming sowat N$1,6 miljoen se kontant gebuit.

Die voorval het na bewering tussen 08:30 en 08:40 plaasgevind terwyl drie sekuriteitswagte besig was om geldkiste in die voertuig te laai.

Die rowers het met altesaam sewe geldkiste weggekom. Die ander geldkiste wat reeds in die geldwa was, is by vier winkels van Woermann Brock, Usave Kuisebmond, Metro Cash ‘n Carry en Motovac opgelaai.

Die verdagtes het ‘n wit Corolla Quest-voertuig met ‘n staatsnommerplaat vir die rooftog gebruik.

Kleiner items is ook van die sekuriteitswagte gesteel, naamlik ‘n 9 mm Makarov-pistool ter waarde van N$12 500, ‘n selfoon ter waarde van N$300 en ‘n handradio van N$1 200.

Ongeveer N$938 419 van Metro was in die geldkiste, asook N$302 264,10 van die Woermann Brock-tak in Kuisebmond, N$169 596,94 van die tak in Narraville, N$106 703,86 van Woermann Brock Shoreline en N$22 678,12 van Woermann Brock Seagull. Sowat N$28 273,20 van die geld het van Usave gekom en N$21 707,85 van Motovac.

Die polisie sê hulle ondersoek die saak “met selfvertroue” en het ‘n beroep op die publiek gedoen om die polisie dringend te kontak as hulle oor meer inligting beskik.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer