Valke vlieg stil-stil in oor gesteelde polisiewapens

Moontlik in Phala Phala-diefstal gebruik
Suid-Afrikaanse polisiebase het vroeër vanjaar na Windhoek gevlieg om hulp te vra om 'n Phala Phala-verdagte se skuldigbevinding te bewerkstellig.
Yandi Du Plessis
Nuusredaksie - Senior amptenare van die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPS) het vergaderings met die Namibiese polisie (Nampol) se inspekteur-generaal, Joseph Shikongo, gehou.

Dit deels om te help om ’n strafregtelike skuldigbevinding te bewerkstellig teen ’n man wat daarvan verdink word dat hy gesteelde polisiewapens gebruik het tydens ’n rooftog van miljoene dollars by die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, se Phala Phala-plaas.

Generaal-majoor Mathipa Solomon Makgato, die hoof van Suid-Afrika se direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke – bekend as die Valke – het Namibië tussen 24 en 28 Julie stil-stil besoek en met Shikongo en ander senior amptenare van Nampol vergader.

In dié vergaderings het Makgato, wat deur drie ander senior amptenare van die Valke vergesel is, onthul dat hulle beslag gelê het op 80 vuurwapens wat by Nampol se verkrygings- en logistieke afdeling gesteel is, wat in 2021 opgespoor is.

Die pistole is by Wes-Kaapse bendes gekonfiskeer, terwyl 12 in die besit gevind is van Urbanus Shaumbwako, een van die mans wat na bewering vroeg in 2020 Ramaphosa se plaas beroof het.

Shaumbwako is tans in ’n Suid-Afrikaanse tronk oor dié vuurwapens.

GEMERK ‘NPW’

Makgato se afvaardiging het ook onthul dat van Nampol se gesteelde vuurwapens gebruik is om gewapende misdade in die Gauteng-provinsie te pleeg.

Op die wapens waarop beslag gelê is, almal pistole, was “NPW” gegraveer, maar die polisie in Suid-Afrika het eers veel later uitgevind dit staan vir “Namibiese polisiewapen”.

Omdat hulle nie geweet het wat die gravering beteken nie, is 30 van die vuurwapens waarop beslag gelê is vernietig, het die Valke-afvaardiging aan Shikongo en sy luitenante gesê.

Die oorblywende 50 vuurwapens word veilig in Suid-Afrika bewaar, en Nampol is aangeraai om ’n formele repatriasie-aansoek in te dien om die wapens terug te kry.

Plaaslike polisiehoofde het bevestig dat die gekonfiskeerde wapens deel vorm van 187 pistole wat by die Namibiese polisiemag gesteel is, waarvoor vyf amptenare verlede jaar aangekla is.

Hulle is Loini Shoondi (57), Kavari Mutuari (35), Fredericks Jacobus Petrus Vilonel (61), Halwoodi Paulus (56) en Laban Hoveka Uaundjua (58).

Hul baas – die hoof van die verkrygings- en logistieke afdeling, kommissaris Andreas Nelumbu – is ook intern aangekla, en die feit dat hy in beheer van die departement bly, het wenkbroue laat lig.

Nelumbu het die polisie gedagvaar vir die beskuldiging dat hy ’n hand gehad het in die verdwyning van die vuurwapens met ’n gesamentlike waarde van N$4,2 miljoen.

TRANSNASIONALE AANKLAGTE

Van die Nampol-vuurwapens is na bewering gebruik om miljoene dollars vanaf Ramaphosa se plaas te buit, nadat ’n sak met 12 pistole in Shaumbwako se besit gevind is.

Hy is een van die sleutelkarakters in die Phala Phala-sage.

Shaumbwako het verskeie hofverskynings gemaak, maar die gebrek aan ’n Oshiwambo-tolk het vordering in die saak belemmer.

In 2022 het ’n landdros ’n versoek van die Valke om Shaumbwako oor Phala Phala te ondervra, geweier en gesê dié saak is irrelevant vir die huidige aanklagte waarop hy teregstaan.

Die Valke-afvaardiging het tydens hul besoek aan Windhoek ’n beroep op die Namibiese polisie gedoen om te help om ’n skuldigbevinding teen Shaumbwako te verkry deur die aanklagte van transnasionale vuurwapensmokkelary teen hom te bewys.

Tydens daardie vergaderings is aanbeveel dat Namibië en Suid-Afrika ’n gesamentlike ondersoekspan stig om enigiemand wat ’n hand in die sindikaat het te identifiseer, op te spoor en vas te trek.

Alle vuurwapens wat op verskillende tye by Nampol vermis geraak het, is glo N$3,6 miljoen werd. Ander items ter waarde van meer as N$675 000, wat insluit tente, polisie-uniforms, kragopwekkers, verkykers, fakkels, staalkiste en polisieselmatte het ook vermis geraak.

Talle ander vermiste polisievuurwapens is glo in misdaadaktiwiteite in Angola gebruik, maar versoeke deur amptenare om na dié land te gaan om ondersoek in te stel, is deur Namibiese polisiebase van die hand gewys.

Shikongo – wat tans in Wene, Oostenryk is – het alle navrae na sy adjunk, generaal-majoor Elias Mutota, verwys. Mutota kon nie die jongste inligting oor die ondersoek verskaf nie en sê hy is nie onlangs op hoogte gebring oor die saak nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 23° | 34° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 18° | 24° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 24° | 36° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 17° | 26° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 18° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 34° Lubumbashi: 16° | 21° Mbabane: 15° | 25° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 18° | 25° Lilongwe: 18° | 23° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 19° | 30° Durban: 20° | 27° Johannesburg: 16° | 30° Dar es Salaam: 25° | 33° Lusaka: 18° | 22° Harare: 16° | 23° #REF! #REF!