Die vleis van 'n geslagte bees onder 'n brug langs 'n teerpad versteek, soos dit die afgelope naweek gevind is. FOTO'S WHATSAPP
Die vleis van 'n geslagte bees onder 'n brug langs 'n teerpad versteek, soos dit die afgelope naweek gevind is. FOTO'S WHATSAPP

Veediefstal is ‘’n kanker’

Boere vertel oor verliese
Veediewe het twee boere 'n gesamentlike skade van bykans N$400 000 die afgelope jaar berokken.
Elvira Hattingh
“Veediefstal is ’n landswye probleem. Dit is ’n kanker wat groei en daadwerklik getakel sal moet word.”

So gesels Eckart Basson, ’n boer uit die Tsumeb-omgewing wat sedert Maart verlede jaar 16 beeste en nege skape weens veediefstal verloor het, met ’n gesamentlike waarde van meer as N$200 000.

Hy het gister juis buite die hof op Tsumeb gesit en wag dat ’n verdagte moet verskyn wat na bewering die afgelope Vrydag betrokke was in die slag van nog een van Basson se beeste.

In nog ’n geval het Kalla Jacobs, ’n beesboer wat grond vir sy beeste langs die Okahandja-Karibib-teerpad huur, die afgelope naweek ses van sy beeste gevind – nog lewend – maar waarvan die hakskene afgekap is.

Hy het aan Republikein gesê dat hy die beeste ’n maand gelede ingekoop het om vet te voer, maar moes hulle nou noodgedwonge slag.

Inteendeel, in die sewe maande wat hy grond op die plaas huur, het hy reeds 14 beeste – met ’n waarde van sowat N$170 000 – weens veediefstal verloor.

In nog ’n geval is nuus die afgelope naweek op sosialemediaplatforms versprei van veediewe wat ses beeste in die Outjo-omgewing geslag het, waarvan die vleis langs die teerpad gevind is. Drie verdagtes is in verband met dié voorval met die hulp van ’n plaaslike buurtwag vasgetrek.

TSUMEB

Die afgelope Vrydag het een van Basson se werkers op slagters afgekom waar hulle besig was om een van sy beeste in die bos te slag. Die werker was op patrollie toe hy ’n skoot en daarna ’n gekappery gehoor het.

Hy het hulle gesien en kon wegstap, sonder dat hulle van sy teenwoordigheid bewus geraak het, het Basson vertel.

Hy sê hulle wou nie die verdagtes in die bos vaskeer nie, omdat hulle dan altyd verdwyn.

Hy het eerder saam met die polisie gewerk en die vier verdagtes in ’n voertuig met die geslagte bees vasgetrek. Die drie slagters het egter uit die voertuig gespring en weggehardloop, terwyl net die eienaar van die motor vasgekeer is, vertel Basson.

Basson het gesê hy het by die hof opgedaag met die hoop om borgtog suksesvol teen te kan staan. Hy word goed deur spesifieke polisielede bygestaan.

“’n Mens moet versigtig wees met wie jou help,” het hy gesê.

Basson sê in sy omgewing is dit ’n reuseprobleem, met sommige boere wat intussen besluit het hulle gaan heeltemal ophou om met beeste te boer, omdat die erge veediefstal veroorsaak dat dit nie meer ’n lonende bedryf is nie.

“Bo en behalwe dit het ons nog ander frustrasies, naamlik dat die oortreders die heeltyd weer op borgtog vrygelaat word,” het hy gesê.

Basson, wat teenaan die teerpad boer, sê hy het sy werkers opgelei en sy beeste word dag en nag opgepas, maar dat die veediewe graag toeslaan as dit reën.

“Dan word alle spore doodgevee en jou beheer van jou beeste is swak – want hulle kom nie poste toe om water te drink nie, hulle bly in die veld,” sê hy.

Hy sê dis veral erg oor die afgelope vier maande, waartydens hy tien van die 16 beeste verloor het.

OKAHANDJA

Jacobs, wat Maandag besig was om die ses beeste te slag waarvan die veediewe die hakskene afgekap het, sê die afgelope naweek het sekuriteitswagte, wat deur die eienaar van die plaas gehuur word om die vee op te pas, op die beeste se bloedspore afgekom.

“Ons glo die diewe wou die volgende aand terugkeer om die beeste te kom slag. Daar was drie van hulle,” het hy gesê.

Hy verduidelik dat die diewe gewoonlik teen sononder teen die teerpad afgelaai word. Hulle span dan draadstrikke – sommer van die plaas se eie lyndraad – in ’n gebied waar die bos ’n digte poort vorm. Dan word die beeste deur die strikke gejaag.

“Een hakskeen word afgekap van die beeste wat in die strikke vasgevang word, dan kan hulle die beeste nog tot teenaan die teerpad jaag waar die beeste geslag word,” sê Jacobs.

Jacobs sê hulle word kwaai deur veediewe geteiken en dat hulle geen vertroue in die plaaslike polisie het om die sake op te los nie – soveel so dat hulle nie meer moeite doen om die sake aan te meld nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!