Veediefstal ’n kopseer vir Maltahöhe-boere

Vier verdagtes kry nie borg
Die hervestigingsplaas Halifax Eenheid D naby Maltahöhe bly 'n doring in boere in die omgewing se vlees.
Tanja Bause
Ongeveer 160 lewende skape, vyf geslagte skape en drie skape wat keelaf gesny is, is verlede Dinsdag op die hervestigingsplaas Halifax Eenheid D gevind.

Die verdagtes mnre. David Visser, Petrus Visser, Desney Isaak en Jakobus Swartbooi is borgtog geweier nadat ’n versoekskrif met 100 handtekeninge by die hof op Maltahöhe ingehandig is.

Gibeon se operasionele komitee teen veediefstal onder leiding van mnr. Christiaan Swartbooi, Daweb se operasionele komitee teen veediefstal en die Namibiese polisie het op die vonds afgekom nadat Swartbooi se hulp Sondag ingeroep is om te help om gesteelde skape op te spoor.

“Andre Rossouw het my gekontak nadat hy ingelig is dat daar spore uit sy kamp lei. Ek is onmiddellik Maltahöhe toe. Die Maandagoggend vroeg het ons begin spoorsny.”

Hulle het die spoor tot sonsondergang gevolg en weer die volgende oggend begin.

“Tydens Dinsdag se spoorsny het ons tot die C14 gelei waar ons opgemerk het dat ’n voertuig twee keer tot by hulle gery het.”

Die spore het Halifax toe gelei en toe Swartbooi daar aankom, was die diere al op die plaas in die kamp.

“Ek werk altyd eerste op my eie. Ek doen al die spoorsny en veldwerk en wanneer ek seker is dan bel ek die polisie en ons sak saam op die diewe toe. Ons het Dinsdag op Halifax toegesak.”

PLAAS

Swartbooi en die polisie het in die eerste kamer wat hulle deursoek het 20 liter plastiese emmers vol skaapkoppe gekry.

Volgens een van die verdagtes het hulle net een skaap geslag om twee mans in die gevangenis kos te kan gee.

“Dit is egter nie waar nie. Ons het die ore van die skape bymekaargesit en vyf koppe getel. ’n No. 6-driebeenpot was vol rugvleis gepak en was net besig om te begin kook. Ons het in die kambashu twee keelaf skape onder die bed gevind,” het Swartbooi gesê.

Hulle het ook Rossouw se tatoeëermerk op een van die skape gekry.

“Petrus Visser het ons na die kraal met die diere gevat. Ek het hom gevra hoeveel diere het hy. Hy het gesê 160. In die kraal was baie verskillende rasse; dorpers, persies, Meatmasters, Van Rooyen en Damara-ramme. Ons het 24 van die diere met nuwe merke in hul ore uitgehaal en opgelaai. Die ander ouer skape het ook nuwe merke gehad, maar ons het hulle gelos sodat Andre hulle self kan kom uitken. Volgens my is dit alles gesteelde skape, want toe die polisie op 5 Mei op Halifax by Visser was, het hy nie skape gehad nie. Nou ewe skielik het hy 160 van verskillende rasse sonder verduideliking of papiere.

“Terug by die huis het ons outydse staaltrommels gekry wat vol gevlekte vleis was. Die vleis was seker so twee dae oud. Ons het nege ribbes gekry, baie gekookte vleis en hulle was besig om skaapbiltong te maak.”

Volgens Swartbooi het die manne erken hulle het 30 skape gesteel.

“Dit is twak, want toe ek begin het om die spoor te sny, het ek gesê dit is oor die 50 skape wat hier geloop het. Daar was ook spore van lammers wat ons nêrens gekry het nie. Ons het slegs een lam gekry. Die honde het die lam se agterbeen opgevreet. Die drie keelaf ooie het ook vol uiers gehad, maar geen lammers. Tussen die gevlekte vleis was daar geen lammers nie.

“Ons doen ’n beroep op die regering om behoorlik ondersoek in te stel en om Halifax toe te maak. Halifax is net ’n kopseer. Iemand moet intree en die stropery stopsit.”

ROSSOUW

Mnr. Andre Rossouw van die plaas Haseweb wat 60 kilometer vanaf Halifax geleë is, het reeds ses klagte van veediefstal aanhangig gemaak en die beskuldigdes is tans verhoorafwagtend.

Swartbooi en die polisie het op 2 Junie twee mans in hegtenis geneem wat met 46 stuks vee op pad na Halifax was. ’n Derde verdagte is later in Maltahöhe gearresteer. Al die diere het aan Rossouw behoort.

Twee van die mans is steeds in die tronk terwyl die derde verdagte, David Visser, op borgtog vrygelaat is voor hy weer in hegtenis geneem is

“Dié keer het ek 26 skape teruggekry en vyf is geslag. Sowat 50 skape is gesteel. Die polisie het die Dinsdag op Halifax toegesak en volgens die eienaar het hy meer as 150 skape in die kraal gehad. Die polisie het die meeste skape daar gelos en ’n visenteringslasbrief gaan kry en die volgende dag teruggekom. Ek het 26 teruggekry, en oubaas Klein 16. Met die dooie skape het ons 113 gekry, dit beteken meer as 37 het oornag verdwyn.”

Volgens Rossouw het die ooie gelam wie se kele afgesny was en het hulle na die 60 km inmekaar gesak en dit is hoekom hulle eerste geslag is.

“Ek het een lam teruggekry wat vermoedelik die hele 60 km saam met sy ma gehardloop het. Die ma se keel is met die aankoms op Halifax oopgesny. ’n Ander lam het hulle uit die ooi gesny en net so weggegooi vir die honde om op te vreet. Ek het die polisie gevra om ’n saak van dieremishandeling oop te maak, want jy kan nie dragtige ooie in twee dae so ver jaag nie.”

“Al wat ons boere kan red, is om hande met ons medeboere, medeburgers en hervestigingsboere te vat. Daar is goeie samewerking tussen ons en Christiaan Swartbooi en sy komitee. Die inligting wat hy kry, is van onskatbare waarde. Hierdie samewerking tussen alle partye is van onskatbare waarde en al manier hoe ons die veediefstal hok kan slaan.”

POLISIE

David Visser, Petrus Visser, Isaak en Swartbooi is van veediefstal aangekla en die saak is tot 19 September uitgestel.

Volgens adj.komm. Eric Clay, die koördineerder van misdaadondersoeke in die Hardapstreek, is ’n klag van dieremishandeling nie aanhangig gemaak nie en hy kon nie daaroor uitbrei nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!