WITHOUT A TRACE: Chinese rhino-horn smuggler, Wang Hui. Photo: Contributed
WITHOUT A TRACE: Chinese rhino-horn smuggler, Wang Hui. Photo: Contributed

Vier beamptes geskors ná Wang se ontsnapping

Chinese renosterhoringsmokkelaar steeds soek
Die kommissaris-generaal van die Namibiese korrektiewe dienste sê die geskorste beamptes se range wissel van 'n senior tot gewone korrektiewe beamptes.
Ellanie Smit
Ellanie Smit – Vier korrektiewe beamptes is reeds geskors en word ondersoek weens hul vermoedelike betrokkenheid by die ontsnapping van die Chinese renosterhoringsmokkelaar, Wang Hui, terwyl hulle aan diens was.

Volgens die kommissaris-generaal van die Namibiese korrektiewe dienste, mnr. Raphael Hamunyela, wissel die range van die geskorste beamptes van ’n senior tot gewone korrektiewe beamptes. Hy sê die ondersoek duur voort, maar sê “dit ruik sleg”.

Hamunyela sê sedert die 48-jarige Wang se ontsnapping uit aanhouding op 17 Oktober, is hy nie weer gewaar nie.

“Die polisie soek steeds, maar daar was nog geen teken van hom waarvan ons weet nie.”

Wang het ontsnap nadat hy saam met ’n bewaarder vanaf die Windhoek Sentrale Gevangenis na Brakwater is om materiaal by ’n verskaffer op te laai.

Die materiaal was bestem vir ’n projek van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste waaraan die gevangenes in die werkswinkel by die gevangenis gewerk het.

Met hul aankoms het Wang gesê hy wil die toilet gebruik en het die geleentheid gebruik om te ontsnap.

Volgens inskrywings in die sosiale media was Wang glo in ’n sedanvoertuig na die kus onderweg. Dit het later geblyk hy is in ’n bakkie vervoer, maar dit kon nooit bevestig word nie.

Volgens Hamunyela het die gevangenis ’n werkswinkel wat deel vorm van ’n gevangene se rehabilitasieproses. ’n Raad besluit volgens sekere vereistes of ’n gevangene hier mag werk. Die sluit in die aantal jare wat hy reeds tronkstraf uitgedien het, goeie gedrag en sy aanpassing in die gevangenis. Dit wissel egter van gevangene tot gevangene.

Hy het verduidelik ’n gevangene werk eers onder baie streng toesig by die werkswinkel. Wanneer die gevangene goeie gedrag toon, word hy toegelaat om uit te gaan.

Wang is in 2016 saam met Li Zhibing, Pu Xuexin en Li Xiaoling skuldig bevind aan die smokkel van 14 renosterhorings en ’n luiperdvel uit Namibië.

Li Zhibing, Pu Xuexin en Li Xiaoling is op 23 Maart 2014 by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako met die renosterhorings ter waarde van N$2,3 miljoen in hul bagasie betrap, sowel as die luiperdvel ter waarde van sowat N$50 000.

Wang wat glo die meesterbrein was, is in Mei dieselfde jaar by die Windhoek Buitekluboord in hegtenis geneem.

Die mans is elk tronkstraf van 14 jaar opgelê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer