Kommer neem toe oor die toenemende aantal voorvalle waar vroue in hul huise aangeval word. Foto Pixabay
Kommer neem toe oor die toenemende aantal voorvalle waar vroue in hul huise aangeval word. Foto Pixabay

Vroue toenemend onveilig in hul huise

Verkragtings vier hoogty tussen Januarie en Junie
Die toenemende aantal verkragtingsvoorvalle waarby pastore en ander kerkleiers betrek word, werp 'n donker skadu oor die veiligheid van plekke van aanbidding.
Nikanor Nangolo
Kommer neem toe oor die veiligheid van vroue in hul huise, met misdadigers wat al hoe meer huise teiken.

In Rundu se Queen’s Park is ’n man (34) borgtog geweier nadat hy ’n vrou (24) ná ’n inbraak verkrag het.

Die koördineerder van misdaadondersoeke in die Kavango-Oosstreek, adj. komm. Bonifatius Kanyetu, het bevestig die verdagte het verlede week in die vroeë oggendure by die slagoffer se huis ingebreek deur ’n baksteen te gebruik om die deur af te breek.

Hy het ’n televisie gesteel, voordat hy na die slagoffer se kamer teruggekeer, haar gewurg en gewaarsku het om nie te skree nie en haar daarna verkrag het, het Kanyetu gesê.

Buiten die televisie sluit die gesteelde items ook ’n afstandbeheer, ’n selfoon, ’n simkaart en ’n laaier in. Die polisie het intussen die gesteelde items teruggevind.

Die voorval op Rundu volg kort op die hakke van verskeie soortgelyke gevalle wat tans deur die polisie ondersoek word.

Verlede week is ’n vrou (37) op Oshakati na bewering deur haar kêrel verkrag, nadat sy sy seksuele toenadering geweier het. Die polisie in die Oshanastreek het bevestig dat die verdagte intussen in hegtenis geneem is.

In Epako op Gobabis het ’n 36-jarige vrou teen haar aanvaller baklei wat tydens die aanranding probeer het om haar oog uit te steek. Niemand is nog in verband met dié voorval in hegtenis geneem nie.

Die voortslepende vlaag van geweld teen vroue duur onverpoosd voort en volg onder meer op die verkragting en moord op die 64-jarige Helena Wimmert vroeër vanjaar in Rehoboth se Blok A.

Volgens die Namibiese polisie se woordvoerder, adj. komm. Kauna Shikwambi, het die oortreder Wimmert verkrag, haar keel afgesny en haar huis geplunder voordat hy op die vlug geslaan het. ’n Verdagte (29) is kort daarna in hegtenis geneem.



STATISTIEKE

Volgens die hoof van die polisie, inspekteur-generaal Joseph Shikongo, is 666 sake van verkragting tussen 1 Januarie en 30 Junie vanjaar landswyd aangemeld.

Die meeste voorvalle was in Ohangwena met 102 gevalle, gevolg deur Oshikoto met 100 en Omusati met 74. Oshana het 65 gevalle aangeteken, Khomas 60, Otjozondjupa 50 en Erongo 48. In die oorblywende streke is tussen 13 en 35 gevalle elk aangemeld.

Die statistieke kom te midde van ’n toename in geweldsmisdade in die land, wat moord en aanranding insluit.

Tussen 2019 en Julie 2022 is byna 4 000 voorvalle van verkragting aangemeld, met die meerderheid van die slagoffers wat jong vroue en meisies was. In 2021 is ongeveer 700 voorvalle binne ’n kwessie van agt maande aangemeld.



NOG VOORVALLE

Olie op die vuur van ’n nasionale gevoel van kommer is die toenemende aantal verkragtingsvoorvalle waarby pastore en ander kerkleiers betrek word, wat ’n donker skadu oor die veiligheid van plekke van aanbidding werp.

Vier maande gelede is ’n pastoor van die Disciples of Christ-kerk op Ongwediva in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n 15-jarige meisie verkrag en haar swanger gemaak het. Die beweerde verkragtings het glo by twee geleenthede plaasgevind, in 2023 en weer in Maart vanjaar. Die beweerde verkragtings het aan die lig gekom nadat die meisie se ouers opgemerk het dat sy swanger was en vrae begin vra het. Sy het haar ouers van die beweerde verkragtings vertel.

Die verdagte, Stefanus Oiva (34), het na bewering die meisie ’n geleentheid ná die kerkdienste aangebied. Volgens insp. Frieda Shikole van Oshana se subafdeling vir gemeenskapspolisiëring, het Oiva haar dan in ’n ander rigting geneem en die meisie by beide geleenthede in sy motor verkrag.

Die polisie in Omusati het in Maart ’n ondersoek van stapel gestuur nadat ’n Lutherse pastoor daarvan beskuldig is dat hy ’n 15-jarige meisie verkrag het en die pa van haar kind was.

Nog ’n pastoor, Elikan Neliwa van die Have Mercy Mission Ministries, is gearresteer nadat hy na bewering drie van sy gemeentelede, onderskeidelik 17, 19 en 24 jaar oud en almal leerlinge by ’n plaaslike skool, verkrag het.

In ’n ander voorval het die Evangeliese Lutherse Kerk in Namibië die pastoor Hendrick Shuudeni uit sy pos onthef nadat hy na bewering 'n seksuele verhouding gehad het met ’n jong man aan wie hy ’n werk belowe het in ruil vir seksuele gunste.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!