Vroueboer leef in vrees

Tweede keer aangeval ná dreigemente
'n Boerin van Grootfontein kon daarin slaag om haar aanvaller met 'n hamer oor die kop te slaan nadat hy haar met 'n houtstomp toegetakel het.
Elvira Hattingh
Die bejaarde vroueboer wat Dinsdagoggend op haar plaas naby Grootfontein aangeval is, is van moord aangekla.

Dit volg nadat sy daarin kon slaag om haar aanvaller tydens ‘n struweling met ‘n hamer teen die kop te slaan.

Die 65-jarige me. Marieta Wilhelm van die plaas Fokshof in die Maroelaboom-omgewing, sê sy leef voortdurend in vrees, buiten dat veediewe haar plaas telkemale teiken.

Dis ook die tweede keer sedert 2016 dat Wilhelm, wat vroualleen boer, aangeval is.

Die voorval het Dinsdagoggend vyfuur gebeur, vertel sy uit haar hospitaalbed, waar sy tans onder polisiebewaking vir haar veiligheid is.

Wilhelm sê die aanvaller het haar langs die huis ingewag. Sy het uitgegaan om vir haar honde kos te gee en toe sy weer in die huis wou ingaan, het die aanvaller haar van agter met ‘n houtstomp aangeval.

Sy het hom as ‘n buurman se werker herken. Hy het haar eers oor die kop geslaan, toe haar nek, arms, rug en bene.

“Die bloed het gelóóp en ek het geval. Ek het toe skoot-op-skoot-op-skoot afgevuur om die man te waarsku. Hy gryp toe ‘n hamer en kom vir my. Toe gryp ek die hamer terug om myself te verdedig, en slaan hom teen die kop.”

Wilhelm sê sy leef in vrees en “loop met haar geweer badkamer toe, bad met hom en slaap met hom”.

Sy sê haar “knieë is afgeslaan” en dat sy nou met krukke oor die weg sal moet kom.

“Ek het alreeds ‘n kreupel knie gehad,” vertel sy.

Sy beweeg reeds swaar nadat sy voorheen haar rug en arm gebreek het.

“Ek is maar scrap metal,” sê sy.

Wilhelm is van mening die aanval op haar is beplan en sy meen sy weet ook wie daaragter sit. Sy het onlangs ook dreigemente van dié persoon ontvang, wat haar glo gesê het dat sy “na haar dood soek”.

Sy sê sy vermoed die aanvalle asook voortdurende veediefstal spruit uit jarelange konflik met bure, omdat sy weier dat haar plaaspaaie gebruik mag word om hoofpaaie te bereik.

“Hulle los my hekke oop. Ek het reeds meer as N$300 000 se wild verloor. Ek het al beeste ook verloor. Moet ek nou op my krukke alleen rondloop om weer die beeste te vang?” vra sy.

Sy sê sy het die pad deur haar plaas toegemaak omdat alternatiewe paaie beskikbaar is. Sy ervaar egter gereeld dat haar plaas nog steeds sonder haar toestemming betree word.

Sy het haar vermoedens met die polisie gedeel.

VEEDIEFSTAL

Wilhelm is ook op 21 Augustus 2016 op Fokshof aangeval.

Sy beweer dieselfde persoon sit agter die onlangse aanval.

“Hulle het gedink ek is dood; hulle was seker dié keer is ek dood,” vertel sy.

Haar kleinseun het, tydens die vorige plaasaanval, die aanvaller met ‘n kierie teen die kop uitgeslaan. Sy sê tot vandag toe het daar nog niks van dié saak gekom nie.

Sy beweer Kersfees was daar sewe aanvallers om haar dood te maak, maar dat sy toe nie in hul “strik” getrap het nie.

Wilhelm sê daar word weekliks vir “kapanamarkte” op haar plaas gesteel en geslag.

“Elke Dinsdag is dit dieselfde storie, as hulle nie ‘n bees slag nie, is dit my skape of my bokke. Al my hoenders is al gesteel. Van die 50 het ek nou net tien oor.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!