Landelike gebiede steier onder swak telekommunikasie
Cran gee terugvoering
Cran het glo Starlink se aansoek as nuwe diensverskaffer na die minister van inligting en kommunikasietegnologie gestuur, wat steeds die aansoek moet oorweeg met betrekking tot spesiale vergunning ten opsigte van Namibiese aandeelhouding.
Die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) het in ’n brief van 1 April aan die vier landbou-unies die uitdagings rakende swak telekommunikasie in landelike gebiede erken en verbind hul daartoe om hierdie uitdagings op te los.
Dit volg nadat die vier landbou-unies – die Namibië Landbou-unie (NLU), die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU), die Namibiese Ontluikende Kommersiële Boerevereniging (Necfu) en die Boere-unie vir Voorheen Benadeelde Kommersiële Boere (PDCFU) – Cran op 13 Maart besoek het om die kwessie te bespreek.
Boonop het Namibië se posisie op die Ookla Speedtest-wêreldranglys vir vaste breëband-internetspoed gedaal. Namibië het verlede jaar 143ste plek behaal teenoor vanjaar se 146ste plek.
PEILING
Al vier die unies het ’n peiling met hul lede gehou. Enkele statistieke uit die terugvoering van die peiling, waaraan 1 900 mense deelgeneem het, is soos volg:
• Slegs 40,7% van die respondente het telefoonverbinding (37,5% soms en 21,8% het geen telefoonverbinding nie);
• Slegs 46% van die respondente het internetverbinding (34,4% soms en 19,6% het geen internetverbinding nie);
• Altesaam 91,9% van respondente het of geen of baie beperkte telekommunikasie (met slegs 8,1% van alle deelnemers wat tevrede is met hulle geriewe).
“Die unies het die uitdagings aangespreek wat die landelike gemeenskappe en selfs klein dorpies voortdurend ondervind.
“Hierdie sluit in geen of baie beperkte telefoonverbinding, geen of baie beperkte datakonneksie, willekeurige beskikbaarheid van krag wat onderbrekings veroorsaak, toerusting wat nie herstel of gediens word nie en die traagheid van diensverskaffers om te reageer,” sê die unies.
“Die boodskap aan Cran was dus duidelik: Die landelike gemeenskappe bly ontkoppel van noodsaaklike dienste, onderwys en ekonomiese geleenthede wat afhanklik is van betroubare en bekostigbare internettoegang. Betroubare en bekostigbare telekommunikasie is ’n uiterste noodsaaklikheid en kan nie meer as ’n luukse beskou word nie.”
Wat onderwys aanbetref, het sowat 1 300 van Namibië se 1 946 skole toegang tot die internet.
WIMAX
Aangesien talle NLU-lede gebruik maak van die Telecom WiMax-produk, het die NLU na dié diensverskaffer uitgereik wat aangedui het dat dié produk binnekort nie meer aangebied sal word nie. Volgens die NLU se inligting sal dit ’n invloed op ten minste 9 000 WiMax-kliënte hê.
“Volgens Cran is daar vir landelike kliënte ten minste nog ’n tydperk van twee jaar oor voordat die produk uitgefaseer sal word, waar Telecom uitgewys het dat Cran die bandwydte binnekort vir ander dienste wil benut.”
“Cran het in sy skriftelike reaksie die staking van WiMax-tegnologie bevestig, maar het ’n omvattende migrasieplan aangedui vir die oorskakeling van hierdie diens na meer gevorderde tegnologieë.
“Hulle het bevestig dat daar geen summiere afskakeling sal wees nie, dit wil sê kliënte moet eers na ’n alternatiewe tegnologie gemigreer word en mag nie sonder ’n diens gelaat word nie,” sê die unies.
“Die owerheid het ook die regering se onlangse toewysing van N$145 miljoen aan ’n nuutgestigte universele diensfonds beklemtoon, wat daarop gemik is om breëbanddienste in gebiede wat tans afgeskeep word, te verbeter.
“Hierdie inisiatief het ten doel om swak of afwesige telekommunikasie in landelike gemeenskappe direk te takel en die owerheid is daartoe verbind om verdere maniere te ondersoek om die fonds uit te brei om beter in die behoeftes van landelike gebiede te voorsien.”
STARLINK
Die unies en Cran het nuwe tegnologie en moontlikhede vir Namibië bespreek met sogenoemde Low Earth Orbit (LEO)-stelsels wat geen of min fisiese infrastruktuur benodig.
Die unies sê volgens Cran het hulle Starlink se aansoek as nuwe diensverskaffer na die minister van inligting en kommunikasietegnologie gestuur, wat steeds die aansoek moet oorweeg met betrekking tot spesiale vergunning ten opsigte van Namibiese aandeelhouding.
Rowland Brown van Cirrus Capital sê daar is geen enkele oplossing wat Namibië na die voorpunt, of selfs die middelpunt, van digitale ontwikkeling sal dryf nie, het Iréne-Mari van der Walt van Network Media Hub (NMH) onlangs berig.
Oor beleidsmakers se gesag in besluite oor watter tegnologie Namibiërs mag gebruik, sê Brown: “Die werklike kwessie hier is iets wat baie meer fundamenteel is en dit is dat die regering kan besluit waar jy produkte en dienste vandaan kry.”
Gerugte oor Starlink se lisensiëring in Namibië het die afgelope jaar vlamgevat, maar Cran hou voet by stuk dat Starlink 51% van sy aandele in Namibië aan ’n Namibiese vennoot sal moet oorhandig.
Die minister van inligting en kommunikasietegnologie het egter die mag om Starlink van hierdie reël vry te stel.
Tans blyk ’n vennootskap tussen Starlink en Paratus Namibia moontlik te wees.
Paratus se uitvoerende hoof, Barney Harmse, het in September verlede jaar gesê Paratus verkoop reeds Starlink-hardeware in ander lande en dat hierdie soort tegnologie “elke vierkante kilometer in Namibië [aan die internet] kan verbind”.
Brown is egter van mening dat ’n plaaslike vennoot baie min waarde tot Starlink kan voeg.
“Watter waarde sou ’n plaaslike vennoot bring behalwe om lisensiëring moontlik te maak? Namibië het ’n klein aanspreekbare mark.
“Starlink het die beherende belang in lande soos Indië afgestaan [waar hy 70% aandele aan twee Indiese maatskappye oorhandig het], maar daar is ’n enorme aanspreekbare mark. Ons as Namibië het geen mag om te onderhandel nie,” sê hy.
Volgens Brown moet Namibiërs die mag hê om self te kan besluit watter soort tegnologie hulle wil gebruik.
“Wat het dit met Cran te doen? As Starlink te duur is vir die gemiddelde Namibiër – wat die aanname maak dat daar een bedrag is wat elke Namibiër kan bekostig of nie kan bekostig nie – kan diegene wat dit kan bekostig dit steeds gebruik.
“Volgens daardie logika moet ons baie ander dinge verbied omdat dit te duur is vir die gemiddelde Namibiër,” sê hy.
“Om nuwe tegnologie aan te neem is nie veronderstel om ’n regeringsgedrewe inisiatief te wees nie. As die regering dit net nie so moeilik maak om moderne tegnologie aan te neem nie sou die land vooruit beweeg. Ons is egter tans ietwat op die agtervoet omdat ons die mentaliteit het om eerste te reguleer,” sê Brown.
Die NLU moedig hul lede aan om klagtes na Maria Uushona, bestuurder: Dispuutbeslegting en -toepassing by [email protected] te stuur ten einde foutiewe of ondoeltreffende telekommunikasiefasiliteite aan te meld. Sluit asseblief die NLU-adres [email protected] in sodat die NLU tred kan hou met die aantal klagtes en of dit doeltreffend opgevolg word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie