Nampo gaan voort ondanks vloede
Die immergewilde Nampo-landbouskou by Bothaville in die Vrystaat gaan voort ondanks swaar reën wat in die gebied uitgesak het.
“Ná weke van swaar reënval by Bothaville en omliggende gebiede wil Graan SA en die Nampo-bestuurspan alle uitstallers, besoekers en vennote gerusstel dat die 2025 Nampo Oesdag steeds soos beplan van 13 tot 16 Mei 2025 by Nampo-park sal voortgaan,” lui ’n verklaring van Nampo.
“Met Nampo Oesdag net om die draai, het die groot hoeveelhede reën tydelike versuiping in dele van die terrein veroorsaak.
“Die terugkeer van sonnige weer oor die afgelope dae het egter reeds ’n beduidende verskil gemaak, met helder lug en droë toestande wat geleidelik oor die terrein verbeter.”
Volgens dr. Dirk Strydom, bestuurder van bemarking en navorsing by Graan SA, is daar ná die deurdringende reënval geen skade aan vaste strukture op Nampo-park nie. Daar is egter massas water wat in sekere dele van die terrein opgedam het, wat die toeganklikheid tot dié gedeeltes bemoeilik sonder dat verdere skade aanrig word.
Hy het verduidelik dat die massas water wel ’n impak op die voorbereidingswerk het, veral vir uitstallers wat hul groter strukture moet oprig. Dit skep ’n uitdaging vir diegene wat reeds vroeg met die opslaan van tydelike strukture wil begin.
“Die Nampo-bestuur het vinnig opgetree om die impak van die reënval te hanteer, spanne ontplooi om oortollige water te dreineer, oppervlaktoestande te verbeter en logistieke riglyne te implementeer waar nodig om die park netjies en toeganklik te hou.
“Voorbereidings is steeds in volle swang, met spanne wat hard werk om te verseker dat die terrein veilig en toeganklik is om die meer as 900 uitstallers en duisende besoekers wat by vanjaar se geleentheid verwag word, te kan verwelkom.”
Die tema vanjaar is “Globale landbou, plaaslik” met die span van Agri Monitor wat dié vlagskipgeleentheid gaan bywoon met die ondersteuning van plaaslike borge Agra, Pupkewitz Toyota, Pick n Pay en Shilongo Leather Works.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie