Tafeldruiwe: 8,5 miljoen kartonne uitgevoer

Nie rekord-oesseisoen
Uitvoermarkte is hoofsaaklik 40% na Europa en 20% elk na die Verenigde Koninkryk en die Midde-Ooste.
Francoise Steynberg
Volgens die Namibië Statistiekagentskap (NSA) se internasionale handelsbulletin van Desember 2024 het Namibië tafeldruiwe ter waarde van N$815,4 miljoen uitgevoer, hoofsaaklik na Nederland en die Verenigde Koninkryk (VK).

Aan die ander kant het Namibië druiwe ter waarde van N$2,3 miljoen, hoofsaaklik uit Suid-Afrika ingevoer.

Volgens die Namibiese Vereniging vir Tafeldruiweprodusente (NGGA) is 8,5 miljoen kartonne tafeldruiwe van 4,5 kg elk uitgevoer. Hul uitvoermarkte is hoofsaaklik 40% na Europa, 20% elk na die VK en die Midde-Ooste, die Verre Ooste 5%, Kanada 2% en ander 12%. Namibiërs maak slegs 1% van die mark uit.

Volgens die NGGA was die 2024-’25-oesjaar nie ’n rekord-oesseisoen nie. Die 8,5 miljoen kartonne van die 2024-’25-oesjaar is minder as die 9,1 miljoen kartonne van die vorige oesjaar. Die rekord-oesjaar bly steeds 2020-’21-seisoen, volgens die NGGA.

Tafeldruiweprodukse van sowat 46 kultivars is hoofsaaklik langs die Oranjerivier by Komsberg, Noordoewer en Aussenkehr en druiweboorde beslaan altesaam 2 281 hektaar in die land.

Die kwaliteit van die tafeldruiwe was volgens die NGGA uitstekend, maar die korrels was ietwat kleiner as die vorige oesjaar.

Volgens uitvoerders is die druiwe baie vinniger as verlede jaar by markte afgelewer, wat gelei het tot gereelde aflewerings deur die seisoen.

Dit was dalk ook een van die beste beplande logistieke seisoene, met aansienlike uitvoere uit die Walvisbaaise hawe. Besendings deur Walvisbaai het druk op die hawe van Kaapstad verlig wat ook ’n aansienlike aantal vraghouers uit Namibië hanteer het.

Sommige logistieke maatskappye het beide hawens vir vraghouerverskepings vanaf Namibië gebruik.

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer