• Tuisblad
  • My Zone
  • NAMMED, NAPSO Blits 7’s: Skole gereed vir blitsvinnige aksie

NAMMED, NAPSO Blits 7’s: Skole gereed vir blitsvinnige aksie

Die NAMMED en NAPSO Blits 7's toernooi vind eerskomende naweek by Windhoek Afrikaanse Privaatskool plaas. Wie gaan seëvier en met trots die trofee huis toe neem?
Annemarie du Toit
Die jaarlikse Blits 7’s-toernooi is om die draai, en skole regoor die land maak gereed vir ’n naweek vol vinnige en aksie-belaaide sport. Hokkie, netbal en rugby speel die hoofrol, met spanne wat mekaar in kort, intense wedstryde die stryd aansê.



Die toernooi het oor die afgelope drie jaar ’n belangrike deel van die NAPSO-skolesportkalender geword.



Dit het in 2023 vir die eerste keer plaasgevind met wedstryde by Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP), Elnatan op Stampriet en Pro-Ed op Swakopmund. In 2024 is dit aangepas na twee bene: Een by Pro-Ed en die finale by WAP. Maar in 2025 het die organiseerders besluit om al die aksie in een naweek te pak en is daar net een groot sportnaweek waarin alles - van uitdunrondtes tot die eindstryde - plaasvind, en hierdie aksie vind nêrens anders as in die hoofstad by WAP plaas nie.



Byna al die NAPSO-skole neem deel, onder andere Pro-Ed, WAP, Elnatan, WBPS, LWB, Gobabis Gimnasium, Tsumeb Gimnasium, KPS en Moria. Die toernooi gee spanne goeie voorbereiding vir die komende seisoen en bied aan kleiner skole die kans om teen mededingers van groter skole te speel.

Omdat dit 7-aan-’n-kant is, is die tempo vinnig en is daar min tyd vir foute.



Die Blits 7’s gaan nie net oor wen of verloor nie; vir baie spelers is dit ’n geleentheid om kragte te meet en op te bou, ervaring te kry en hul spel te slyp voor die begin van die jaarlikse wintersportliga.



Op die vraag aan Pro-ed Akademie se sportorganiseerder Ruan Oosthuizen oor wat die naweek vir hom en sy skool beteken, het hy geantwoord: “Die spelers geniet dit baie en omdat dit net 7-aan-'n-kant is, wat beteken die kleiner skole kan ook deelneem en bietjie meer wedstrydtyd kry.”



Met skole wat gereed maak vir aksie, gaan dit beslis ’n naweek vol kompeterende en energieke sport wees waar net een skool kan seëvier en ons kan nie wag om te sien watter een met trots die beker gaan lig nie!

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer