Opleiding dra vaardighede oor

Fokusgroep tussen 18 en 35
Kanyanga Media Group cc is 'n klein-medium-onderneming wat jongmense voorberei vir die toekoms deur hulle te leer oor media, naaldwerk en fotografie in Mariental
Monique Adams
Die stigter van Kanyanga Media Group cc, Romanus Kanyanga, is 'n inligtingtegnologie (IT)-tegnikus by die Hardap-streekraad, maar bestuur ook ’n jeugbemagtigingsprogram deur vaardigheidsontwikkeling.

Die projek is in 2017 van stapel gestuur met die doel om fotografie- en filmmaakvaardighede aan werklose jeugdiges op Mariental oor te dra.

“Die projek was iets wat ek nog altyd wou doen, want ek het in Mariental grootgeword en het eerstehandse ondervinding om te sien hoe jongmense sukkel om werk te kry,” het Kanyanga gesê.

Sy ma het in 2018 by die program aangesluit deur jong meisies op te lei om skoolrokke en tradisionele klere te verstel.

Kanyanga se ma, Elizabeth Kanyanga (57), is 'n selfopgeleide kleremaker en lei tans twee meisies by die huis op.

“Ons huidige fokusgroep is mense tussen die ouderdomme van 18 en 35 jaar oud.

Aangesien dit net ek en my ma is, neem ons net 'n maksimum van vier kandidate op 'n slag in omdat die toerusting baie duur is,” het hy gesê.

Hy het gesê hy hoop om die projek in die volgende paar jaar geweldig te sien groei.

Kanyanga glo sterk dat werkloosheid in al die streke van Namibië baie hoog is.

"Ons bid ook dat ons ondersteuning van die ministerie van sport, jeug en nasionale diens en ook private entiteite kan kry, want ons wil seker maak meer jongmense vind baat by hierdie program," het Kanyanga gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer