Agter: Jolanda Amoraal en Fanie Dorfling. Middel: Kaitlyn Pinto, Fiona Lee, Muayme Puuahee. Voor: Anuska Erasmus, Jubilee Hanstein, Connor Wecke and Jaira Cawindima.
FOTO Lezel Amoraal-Füscher
Agter: Jolanda Amoraal en Fanie Dorfling. Middel: Kaitlyn Pinto, Fiona Lee, Muayme Puuahee. Voor: Anuska Erasmus, Jubilee Hanstein, Connor Wecke and Jaira Cawindima. FOTO Lezel Amoraal-Füscher

St George’s bekoor met hul stemme

Kore neem deel aan ATKV Applous-kompetisie
Windhoek Hoërskool se koor het tweede plek verwerf en was die enigste ander skool in die hoofstad, behalwe St George's, wat aan die kompetisie deelgeneem het.
Jeanette Diergaardt
Drie kore van St George’s Diocesan School het elk goue sertifikate van 80% en hoër ontvang by die ATKV Applous-koorkompetisie wat in Windhoek aangebied is.

Agt kore het deelgeneem waarvan vier, Keetmanshoop Sekondêre Skool, Suiderlig Hoërskool , J.A. Nel Sekondêre Skool en die Dolphins Privaatskool, buite Windhoek geleë is.

Die koor van Windhoek Hoërskool het silwer met hul tweede plek verwerf en was die enigste ander skool in die hoofstad, behalwe St George’s, wat aan die kompetisie deelgeneem het.

Die Namibiese kore het nie ’n uitnodiging na die eindronde van die Suid-Afrikaanse ATKV Applous-koorkompetisie wat in Pretoria en Stellenbosch plaasvind, ontvang nie.

Die eindronde vind vanaf 28 tot 30 Julie by die Unisa-kampus plaas en die Suide se eindronde by die Universiteit Stellenbosch vanaf 4 tot 6 Augustus.

“Harde werk, geduld, kreatiwiteit en spanwerk.”

Dít was St. George’s se wenresep, het Jolanda Amoraal wat die dirigent vir die junior koor sowel as die kollege-meisieskoor is, gesê.

Fanie Dorfling wat die senior koor se dirigent is, het gesê ná Covid-19 was dit moeilik om die koor weer op te bou aangesien geen aktiwiteite die afgelope twee jaar plaasgevind het nie.

“Die wonderlike ondersteuning van die personeel en die toegewydheid van die leerlinge het die proses vergemaklik,” het hy gesê.

Amoraal en Dorfling het beide jare se ondervinding met dirigentskap. Dorfling het 27 jaar se ondervinding as koorleier en hy het ook ’n meestersgraad in musiek vir dirigering. Hy het al die Cota-jeugkoor, Femme Vocale, Die Stemme van Windhoek sowel as die Windhoek-kinderkoor afgerig.

Amoraal het in verskeie kore gedurende haar skool- en universiteitsjare gesing en was lid van die Suid-Afrikaanse Jeugkoor in 1994. Sy rig al vir 20 jaar skoolkore af.

Amoraal het haar dirigentloopbaan in Suid-Afrika begin en eers in 2010 by St George’s aangesluit.

Die St George’s-koor het vanaf 2011 in die ATKV Applous-koorkompetisie begin deelneem en is dieselfde jaar as ’n finalis na die eindronde wat in Pretoria plaasgevind het, genooi.

Volgens Amoraal word die junior kore nie na die finale ronde toe uitgenooi nie, maar ’n top-10-lys word opgestel wat gedurende die finale aangekondig word.

In 2015 was die St George’s junior koor sesde op die Suid-Afrikaanse top-10-lys.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer