Edmund, die feniks met dans in sy bloed
Sy passie as ’n dansinstrukteur kan hy weer uitleef ná ’n beroerte in 2019.
Tanja Bause – Hy het as jong kind saam met sy ouers Namibië toe getrek. Later het sy familie se paaie geskei en hy het op straat beland.
Hy het toe sy werklike passie gevind, maar ’n beroerte gekry, vir drie jaar rehabilitasie deurgemaak, maar uit die as uit opgestaan net soos ’n feniks.
Vandag, ná 25 jaar as ’n danser, leef Edmund van Neel (46) steeds sy passie in sy Phoenix Dance Studio uit.
Edmund is in Suid-Afrika gebore en het saam met sy ouers Windhoek toe getrek nog voordat hy skool begin het.
“Michael Jackson het my op ’n baie jong ouderdom op die strate van Khomasdal geïnspireer. My liefde vir die uitvoerende kunste het daar begin. Daardie man kon ’n live performance lewer soos niemand anders nie en hy het my en vele ander kunstenaars gefassineer en geïnspireer.”
Edmund en sy familie het deur ’n moeilike tyd gegaan. Sy gesin het hul huis verloor en hul paaie het daarna geskei.
“Ek het op straat beland en dit het my elke dag aangespoor om iewers in my lewe te kom. Om verder te vorder en beter te vaar. Hulle sê dit vat ’n hele nedersetting om een kind groot te maak en dit is so. ’n Hele nedersetting het my grootgemaak. Ek het hier bietjie hulp ontvang en is deur dié persoon of daardie persoon gehelp. Ek het van oral af hulp gekry totdat ek my eerste werk gekry het en vir myself kon sorg.”
Terwyl hy gewerk het, het hy ’n advertensie in ’n koerant gesien van ’n dansstudio wat iemand gesoek het om as ’n dansinstrukteur opgelei te word.
“Ek kom uit ’n kunstige familie en my passie was nog altyd dans, sing en toneelspel. Dis wat ek eintlik met my lewe wou doen. Ons was seker so 36 mense wat vir die oudisie in Klein Windhoek gegaan het. Ek is gekies en die opleiding het begin.
“Dans het my passie geword, ’n passie wat ek nou al vir 25 jaar professioneel doen. Ek dink ek is seker die enigste van daardie aanvanklike 36 mense wat vandag nog dans.”
Hy het ook verdere opleiding in Suid-Afrika ontvang.
“Ek het as 21-jarige ouderdom regtig begin om in die dans in te kom, eksamens te doen en opleiding te kry. Sommiges sê 21 is oud om in die danswêreld te begin, maar alles het seker sy eie tyd.”
Hy het opleiding in baldans en Latyns-Amerikaanse dans gekry. Hy is ook bietjie in bewegingsopvoering opgelei, wat weer sy liefde vir kontemporêre Afrika-dans aangespoor het.
Edmund het in sy jare as danser nie net oraloor Namibië opgetree nie, maar ook saam met bekende mense van Suid-Afrika en Duitsland.
Hy dans nie net en gee vir mense dansopleiding nie; hy skryf ook sy eie vertonings en musikale vertonings wat hy dan ook self choreografeer.
“Wanneer jy iets doen waarvoor jy lief is, dan gaan jy nie werk toe nie. Ek begin nie werk nie, ek werk wanneer ek my oë oopmaak en hou op wanneer ek gaan slaap. Die studio en dans is nie werk vir my nie.”
BEROERTE
In 2019 het Edmund weer voor ’n uitdaging te staan gekom toe hy ’n beroerte gehad het.
“Ek moes Kaap toe gaan vir ’n breinoperasie en ek was aan my hele linkerkant verlam. Ek kon vir sowat drie jaar nie dans nie en moes rehabilitasie doen. Vir my as danser wat al sy ledemate daagliks gebruik, het dit gevoel asof my hele wêreld in duie stort, maar met die hulp van Bo, vriende en familie is ek daardeur. Dit was nie maklik nie, omdat jy soveel goed soos loop weer van voor af moes leer. Dis ’n aanhoudende oorlog wat jy meer in jou kop moet voer as met jou lyf.
“Ek was gelukkig omdat ek met my dansagtergrond baie fiks was en grotendeels my eie rehabilitasie kon doen. Dit was maar nog net een van die vele uitdagings wat die lewe my kant toe gegooi het en drie jaar later was ek weer op die dansvloer.”
PHOENIX
’n Jaar voor sy beroerte het hy die Phoenix Dance Studio gestig en in die middel van 2021 het die studio weer oopgemaak – dieselfde studio waar hy vandag 15 leerlinge oplei.
“Ek het eers nadat ek weer in die studio ingestap het die betekenis van die naam regtig verstaan. Voor my beroerte het ek sommer net die naam gekies en ná die tyd die betekenis van die woord besef. Die woord het sin gemaak, want ek moes weer eens soos ’n feniks opstaan.”
Die dansopleiding is baie op pret gebaseer, maar leerlinge leer ook hoe om op voor mense op te tree, wat hulle meer selfvertroue gee.
“Ek sien iets in my studente wat baie van hulle nie self sien nie en ek wil dit uitbring en aan hulle voorstel. Dis hoekom ek soms streng is en hulle hard druk. Ek weet wat hulle kan doen en wat in hulle steek.”
HOOGTEPUNT
Edmund onthou toe hy aan ’n Latyns- Amerikaanse danskompetisie deelgeneem en dit gewen het.
“Dit was my heel eerste kompetisie en ek was so trots. Die tweede hoogtepunt was toe ’n Tango-ensemble van Duitse musiekprofessors hier in Namibië getoer het. Hulle het die musiek gemaak en ek en my dansmaat het gedans.”
Hy het ook die choreografie vir die openingseremonie van die 2014 Afrika Nasiebeker vrouesokkertoernooi in Namibië gedoen. Hy het saam met Penny Jones van Suid-Afrika gewerk. Vyfhonderd dansers was by die seremonie betrokke.
DIE TOEKOMS
In die toekoms wil hy die stigter van die eerste Dance Dome wees wat oor ’n wêreldkampioenskap-grootte dansvloer beskik.
“Daar sal twee tot drie dansateljees wees, en winkels met dansklere en dan die vloer wat 20 meter lank en 15 meter breed moet wees. Ek het dit alles reeds ontwerp en dis wat ek graag vir Namibië en die danswêreld wil nalaat.”
SY RAAD
“Jou stimulus moet altyd wees wat jy wil hê en hoe graag jy dit wil hê, dan sal niks in jou pad staan nie.”
Volgens hom sal uitdagings altyd oor jou pad kom; vanaf jou onderwysers, ouers of vriende en dit hang af wat jy daarmee doen en hoeveel jy jouself daardeur laat terughou.
“Jou doel as ’n jong mens is om eerstens jouself te vind, wie jy is en wat jou gawe is. Hoekom is jy op aarde? Wat kan jy doen?
“Die oomblik wat jy dít kan antwoord en jouself gevind het, word alles die moeite werd.”
– [email protected]
FOTO’s Tanja Bause
Edmund van Neel saam met Alta Hill van die Phoenix Dance Studio.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie