Ons land gaan ten gronde (Deel 2)

Dani Booysen
J A ROSSOUW SKRYF:

In Deel 1 het ek gevra dat ons nie die agbare president moet opsaal met ons persoonlike probleme nie en dat ons dit liefs moet deel met die lesers van "Praat saam".

Die afgelope tyd is die media vol van Corona-19 en die arme virus kry die skuld vir alles denkbaar.

As gevolg van die virus is ons plaaslike waterverbruik nie vir April gelees nie, maar geskat. Ons munisipale rekeninge het ook nie voor die 20ste April opgedaag nie en die bedrag verskuldig is by navraag bepaal en betaal om te verhoed dat daar rente bygevoeg sou word.

Groot was my skok toe ek die munisipale rekening vir Mei ontvang en die bedrag daarop 'n hele N$3 555,97 was. Dit was drie maal soveel as die vorige maand!

My vraag: waar kry 'n arme pensioenaris soveel geld?

By nadere ondersoek het ek gesien dat my waterverbruik vir April op ses eenhede geskat is en die verbruik, wat ten spyte van die teenwoordigheid van die Corona-19-virus se teenwoordigheid vir Mei gelees is, is 'n hele 61 eenhede. Tien maal meer as die geskatte ses eenhede van April.

As die werklike waterverbruik om een of ander rede nie gelees kon word nie, is dat net logies om die gegewens van die vorige maand te gebruik, soos dit in die verlede gedoen is, byvoorbeeld in November en Desember 2019, toe Desember se munisipale rekening tot op 'n sent presies dieselfde as die November-rekening was.

(Ek kan nog ander voorbeelde ook aanhaal.)

Daar was tevore ook klagtes oor die wyse waarop skattings gedoen is.

My waterverbruik is normaalweg 30 eenhede per maand. Omdat die ­logiese nie gedoen is nie, word daar van my verwag om vir Mei byna N$2 500 meer as vir die vorige maand uit te spit.

Dis nie net 'n skande nie, maar is 'n bewys hoe arrogant die Corona-virus kan wees.

By navraag is daar beweer die hoë waterverbruik vir Mei kan moontlik toegeskryf word daaraan dat ons nou gereeld om hande onder lopende water moes was.

Dis 'n "laaaaang storie daardie". Eerder as om 61 000 000 liter water te vermors om my hande te was, vee ek my “hanne” sommer aan my "broekgat" af. Klaar!

Ek het navraag gedoen en uitgevind dat ek nie die enigste pensioenaris/belastingbetaler is wat deur die Corona-virus ingeloop is nie.

Kom ons praat saam.

Corona-groete

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer