Ouderdom is net oëverblindery

[email protected]
Sanet de Waal
Tanja Bause – Ek het verlede jaar oor die tannies van die Auas Hills-aftreeoord in Windhoek geskryf wat geld ingesamel het om ’n hysbak by die oord te laat installeer. Die hysbak verseker nou dat al die inwoners funksies in die saal kan bywoon sonder om ’n magdom trappe te klim.

Die projek is in 2017 van stapel gestuur en in Julie verlede jaar is met die installering van die hysbak begin. Die komitee en vrywilligers het N$529 000 van die N$710 000 – wat vir die projek benodig was – op hul eie ingesamel.

Die res het van skenkings van mense uit die gemeenskap en besighede gekom. Een barmhartige Samaritaan het N$100 000 vroualleen geskenk.

Ek het met een van die tannies oor die geldinsameling gesels. Ek noem haar ’n tannie want ouma of bejaarde dame is nie van toepassing nie met die energie en dryfkrag wat sy en die ander geldinsamelaars uitstraal.

Ek het gevra waar die geld vandaan gekom het en wie die skenkers was, want dit was ’n reusebedrag wat ingesamel is.

Sy sê hulle het nie bakhand voor mense gestaan nie. Hulle – dit is nou die sosiale klub en hul helpers – het die meeste van die geld self ingesamel.

“Ons het baie vroeg op ’n Saterdag opgestaan en begin om pannekoeke by verskillende markte in Windhoek te verkoop. Jy moet onthou ons oudste helper was tannie Nellie wat vanjaar 81 jaar oud word. Sy was by elke mark en het pannekoeke gebak en al was sy doodmoeg aan die einde van die dag, het sy klaar haar hulp vir die volgende funksie aangebied. Ons was nie bang vir werk nie. Ons was doodmoeg ná elke mark en het party keer woorde gebruik wat nie toepaslik was nie. Ons wou soms tou opgooi, maar as ons onsself weer kon kry, het ons weer gestaan en pannekoek en brötchens verkoop.”

Hulle het 05:00 op ’n markdag opgestaan en was 06:00 in die saal. Hulle het met drie emmers deeg begin en by ses emmers en 600 pannekoeke opgehou soos die aanvraag toegeneem het.

Die tannies en ’n paar ooms het alles self gedoen. Hulle het onder meer die tafels en stoele uitgesit, die deeg aangemaak, gasbottels vol gemaak, die braai gelaai, panne en skottelgoed gewas, bestanddele gaan koop en tafeldoeke gewas en gepak. Ná die mark het hulle alles weer opgeslaan en ingepak.

Hulle het verskeie kere vir die inwoners en families van die aftreeoord gebraai en hier het hulle ook alles self gedoen.

“Ons het gestaan en braai want ons het ’n rede gehad en niks was té veel of té moeilik om die hysbak vir ons mense te kry nie. Ons het self markdae hier by die oord gereël, funksies en konserte gehou en lootjies vir ’n voertuig verkoop.”

Sy onthou die een wintersoggend wat hulle ook douvoordag op hul plek was om lootjies vir die sedanvoertuig te verkoop.

“Ons het weer 05:00 opgestaan en stiptelik om 06:00 vanaf Auas Hills in ’n konvooi vertrek. Ons het by die plek aangekom, die tafel uitgepak en ons lootjieboeke en pamflette neergesit toe ’n yskoue wind om sowat 06:30 begin waai het. Ons papiere het die wêreld vol gewaai en ons het rondgeskarrel. Daar was vyf van ons wat toe besluit het om skuiling in die karretjie te gaan soek. Sommige van ons is nie klein nie, maar ons het ingedruk en gesit tot so 08:30 totdat die eerste mense hul opwagting gemaak het. Ons motto was altyd ons sit tot ons so tussen twee en drie boekies verkoop het en dan kan ons oppak en huis toe gaan. En dit is wat ons gedoen het op dié dag wat nog lank in ons gedagtes sal wees.”

Baie mense het gedink die tannies sal nie die geld kan insamel nie, maar die sosiale klub en hul helpers – almal tussen die ouderdomme van 60 en 80 – het gewys ouderdom is net oëverblindery. Want as daar ’n wil is, is daar ’n weg.

“Ek moet ook byvoeg ons was ’n ongelooflike, ontsagwekkende, hardwerkende span,” het sy afgesluit.

Kommentaar

Republikein 2024-09-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Manchester City 2 vs 2 Arsenal | Brighton 2 vs 2 Nottingham Forest LaLiga: Girona 0 vs 0 Rayo Vallecano | Real Madrid 3 vs 2 Deportivo Alaves | Valencia 0 vs 0 Osasuna | Sevilla 2 vs 1 Real Valladolid | Real Betis 1 vs 2 Mallorca | Rayo Vallecano 1 vs 1 Atletico Madrid | Villarreal 1 vs 5 Barcelona | Athletic Club 3 vs 1 Celta Vigo | Getafe 1 vs 1 Leganés SerieA: Atalanta 2 vs 3 Como | Inter Milan 1 vs 2 AC Milan | AS Roma 3 vs 0 Udinese | Monza 1 vs 2 Bologna | Fiorentina 2 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers English Championship: Preston North End 0 vs 0 Blackburn Rovers #N/A Currency: GBP to NAD 22.97 | EUR to NAD 19.23 | CNY to NAD 2.46 | USD to NAD 17.28 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.27 | EGP to NAD 0.35 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.14 | RUB to NAD 0.19 | INR to NAD 0.21 | USD to DZD 131.92 | USD to AOA 933.05 | USD to BWP 13.12 | USD to EGP 48.5 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1596.98 | USD to ZAR 17.28 | USD to ZMW 26.37 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1889.62 Up +2.40% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14282.71 Up +0.63% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 31250.64 Up +1.23% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 659.62/OZ UP +0.05% | Copper US$ 4.46/lb DOWN -0.0095 | Zinc US$ 3 007.30/T DOWN 0% | Brent Crude Oil US$ 73.75/BBP DOWN -0.0195 | Platinum US$ 988.61/OZ UP +0.03% #N/A