Blue Rhino slaan hard
Blue Rhino slaan hard

Blue Rhino slaan hard

Wildmisdadigers moet ligloop vir dié taakspan wat georganiseerde sindikate teiken.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Operasie Blue Rhino wat ten doel het om renosterstropery- en smokkelarysindikate vas te vat, het in drie maande al 73 verdagtes in hegtenis geneem.

Só het die leier van die Blue Rhino-taakspan, komm. Barry de Klerk, gister tydens 'n slypskool oor wild- en bosboumisdaad in Windhoek gesê.

"Operasie Blue Rhino het ten doel om alle lede van verskeie renosterstropery- en smokkelarysindikate wat steeds bedrywig in die Etosha Nasionale Park en op private plase is, te identifiseer, in hegtenis te neem en aan te kla, asook die skakels tussen die verskillende sindikate vas te stel," het De Klerk verduidelik.

"Die taakspan is einde Julie gestig en wil 'n duidelike prentjie van die vloei van onwettige wildprodukte gee vir die indiepteondersoek en suksesvolle vervolging van georganiseerde sindikate verantwoordelik vir die smokkel van wildprodukte."

"In drie maande sedert 30 Julie tot 31 Oktober vanjaar, het die Blue Rhino-taakspan 22 nuwe dossiere geopen en 73 verdagtes in hegtenis geneem, van wie 12 verdagtes aan vorige renosterstroperygevalle verbind word," het De Klerk gesê.

Volgens hom is in dié tydperk beslag gelê op drie renosterhorings, 31 ietermagôvelle, 15 lewende ietermago’s, 18 olifanttande, een ratelvel, een muishondvel en twee vals renosterhorings.

Wat vuurwapens aanbetref, is beslag gelê op vier AK-47-aanvalsgewere, vier 303-jaggewere, een Droganov-skerpskuttergeweer, een R4-aanvalsgeweer, een elk 300- en 308-jaggeweer, 'n haelgeweer, asook ammunisie.

De Klerk sê beslag is ook gelê op 1 365 ongeslypte diamante, N$500 000 kontant en agt voertuie wat in renosterverwante misdaad gebruik is.

Volgens die ministerie van die omgewing en toerisme is reeds 55 renosters vanjaar gestroop teenoor 2017 se 44. Altesaam 27 olifante is vanjaar vir hul ivoor afgemaai, drie meer as in 2017.

Die slypskool is deur die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) in samewerking met die ministerie van die omgewing en toerisme, asook die Verenigde Nasies se Kantoor oor Dwelms en Misdaad (UNDOC) aangebied om belanghebbendes in te lig oor die Wild- en Bosboumisdaad Analitiese Hulppakket. Dit is 'n tegniese hulpbron wat deur die Internasionale Konsortium oor die Bekamping van Wildmisdaad (ICCWC) ontwikkel is om lande te help om wild- en bosboumisdaad te analiseer en te voorkom, veral op die gebied van wetstoepassing.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!