Jong vrou by Stinkwater vermoor, haar geslagsdele verwyder
Jong vrou by Stinkwater vermoor, haar geslagsdele verwyder

Jong vrou by Stinkwater vermoor, haar geslagsdele verwyder

Ronelle Rademeyer
Die geskende liggaam van ‘n jong vrou is laat Maandagmiddag in die berge by Stinkwater naby Dordabis gevind – enkele dae nadat die 16 dae van aktivisme teen geslagsgeweld op Menseregtedag ten einde geloop het.
Die 23-jarige Lydia Garises, wat volgens die nasionale polisiewoordvoerder, adj.komm. Kauna Shikwambi, Saterdag nog ‘n troue by Stinkwater bygewoon het, se lyk is kort voor sesuur Maandagmiddag deur ‘n verbyganger gevind.
Volgens Shikwambi toon die voorlopige ondersoek sy is seksueel aangerand. Haar geslagsdele is ook verwyder.
Garises, wat ‘n 10 maande oue baba het, is Saterdagaand na bewering tussen tienuur en elfuur laas by die troue opgemerk.
“Hierdie tipe voorvalle, insluitend gister (Maandag) se voorval van 'n vrou wat haar baba vermoor en vermink het, verpletter ons pogings (om geslagsgeweld te stop) en maak dit betekenisloos. Elkeen verdien om vry van geweld te lewe,” sê Shikwambi en voeg by: “Wanneer gaan dit stop?”
Sy het mense wat oor inligting beskik wat die polisie in sy ondersoek kan help, gevra om
adjudant-offisier Kavari by 081 280 0326, of sersant Kaoko by 081 642 0826 te bel.
Intussen sal die 26-jarige huiswerker van Windhoek wat na bewering die naweek in 'n huis in Rocky Crest geboorte geskenk en haar baba daarna versmoor en toe die ingewande verwyder het, Woensdag in die landdroshof in Katurura op 'n klag van moord en regsverydeling verskyn.

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer