Lucia sterk goed aan
Leer loop weer ná brandwonde
Tanja Bause
Vier maande nadat Lucia Soroses (8) met ernstige brandwonde na die sentrale hospitaal in Windhoek verplaas is, sterk sy goed aan.
Mnr. George Olivier van A Better Life Project 2020 het van haar te hore gekom waar sy in die sinkhuis van haar familie op die vloer gesit het met oop brandwonde aan haar bene nadat haar ma haar uit die hospitaal gehaal het. Lucia het gebrand toe sy bo-op ’n ashoop geklouter het wat binne-in warm kole gehad het.
Olivier, wat in Swakopmund woon, het aan die werk gespring en vrywilligers op Grootfontein en Tsumeb gemobiliseer om Lucia te help. Sy is uiteindelik per privaat ambulans na Windhoek geneem.
“Die spiere in haar been het ineengetrek omdat sy vir vier maande nie geloop het nie. Nou word sy gedwing om te loop; dit klink baie erg en sy huil baie omdat dit pynlik is, maar gisteroggend het sy met die hulp van ’n verpleër geloop.
“Ek dink sy begin besef dat sy met die nodige oefening weer kan loop. Dit was vir haar die ergste toe sy in die huis gesit het en gehoor het hoe haar maatjies buite rondhardloop en speel. Sy kan nie wag om weer saam met hulle te wees nie en dit spoor haar baie aan,” het hy gesê.
Volgens Olivier het hy in Grootfontein iemand gereël wat die nodige wondversorging en haar fisio-oefening sal doen wanneer sy ontslaan word.
“Hy doen dit vir ons teen ’n goedkoper tarief, waarvoor ons dankbaar is. Sy sal kan huis toe gaan as al die nodige veloorplantings gedoen is en die wonde soveel moontlik gesond is. Dit help nie ons stuur haar te vroeg huis toe en sy beland weer in dieselfde situasie soos tevore waar die wonde nie versorg word nie.”
Volgens Olivier doen die verpleegsters in die hospitaal alles in hul vermoë om Lucia te help.
“Ek weet mense kla oor die hospitaal, maar die mense wat daar werk, het harte van goud. Ek weet dit is vuil en die muise hardloop rond, maar dit is nie die verpleegster se werk om die hospitaal skoon te maak nie. Hulle doen uitstekende werk met die bietjie wat hulle tot hul beskikking het. Die verpleegsters is ongelooflik, ontsagwekkend.”
’n Lang pad lê nog voor Lucia voordat sy volkome gesond is. Mense wat wil help om haar droom te bewaarheid om weer saam met haar maatjies te kan hardloop, kan vir Olivier per WhatsApp bereik (081 324 2948).
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie