Oordragplanne van Hatuikulipiu2019s gefnuik
Oordragplanne van Hatuikulipiu2019s gefnuik

Oordragplanne van Hatuikulipi’s gefnuik

In ’n nuwe verwikkeling in die Fishrot-sage is planne vir eiendomsoordragte gebriek.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) het gistermiddag by die aktekantoor in Windhoek beslag gelê op dokumente vir die oordrag van 15 deeltiteleenhede op Swakopmund wat aan mnre. James en Tamson “Fitty” Hatuikulipi behoort.

Die eenhede is in ’n kompleks bekend as Swakopmund Lofts. Die registrasie van die oordragte sou vandag geskied.

Die Hatuikulipi’s staan saam met die voormalige ministers Bernhard Esau (visserye en mariene hulpbronne) en Sacky Shanghala (justisie), asook mnre. Ricardo Gustavo en Pius Mwatelulo tereg op klagte wat voortspuit uit die Fishrot-korrupsieskandaal.

’n Ingeligte bron het dié beslaglegging aan Republikein bevestig. Die ACC se uitvoerende direkteur, mnr. Paulus Noa, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

(James) Hatuikulipi is die gewese uitvoerende direkteur van Investec Asset Management Namibia. Sy vermeende aandeel in die Fishrot-skandaal spruit uit sy betrokkenheid as voorsitter van die staatsbeheerde vismaatskappy, Fishcor, by die toekenning van viskwotas in ruil vir smeergeld.

Sy neef, Fitty, is getroud met Esau se dogter, Ndapandula.

Die aansoek vir die oordrag van die titelaktes is op 18 November ingedien. Dit was een week en twee dae voordat die Fishrot-6 in hegtenis geneem is en ses dae nadat die internasionale media oor die grootskaalse korrupsie in die Namibiese visbedryf berig het.

Elf van die eenhede behoort aan Fitty (TT Hatuikulipi) en NJ Hatuikulipi, terwyl twee in James (JN Hatuikulipi) se naam en die ander twee in Fitty (TT Hatuikulipi) se naam geregistreer is.

Die registrateur van aktes is in die geval van vyf van die eenhede versoek om die titelakte wat in beide Fitty en NJ Hatuikulipi se naam geregistreer is, na net laasgenoemde se naam oor te dra.

Dit kon nie bevestig word of NJ die voorletters van sy vrou, Ndapandula, is nie.

Vir twee van die transaksies moes die oordrag geskied van TT en NJ Hatuikulipi na JN Hatuikulipi (James).

Agt van die oordragte sou gemaak word na ander individue, asook twee handelsbanke.

Dit is nie bekend of dit eenhede in ’n bestaande kompleks is en of dit ’n nuwe ontwikkeling is waarvan die eenhede nog gebou moet word nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!