‘Steeds ’n mens met emosies, drome’
Vroeë ingryping en ontwikkeling is ’n sleutelfaktor in die lewe van iemand met downsindroom.
Henriette Lamprecht – Hulle mag dalk ’n bietjie anders lyk, anders praat of dink, maar hulle is steeds ménse met emosies, drome en toekomsplanne.
Die Downsindroomvereniging van Namibië (DSAN) het met ’n dag vol pret elke lid van die Downs-gemeenskap in die land gevier. Die vieringe het deel gevorm van Wêreld-downsindroomdag en die fokus op mense met downsindroom (DS) laat val.
Die vereniging het onder die leiding van dr. Eline van der Linden die afgelope paar jaar met rasse skrede uitgebrei en spog nou met ’n kantoor by die Môreson-skool in Windhoek, verskeie vrywilligers en onder meer gereelde werkwinkels oor belangrike onderwerpe soos alternatiewe kommunikasievaardighede.
Volgens Van der Linden ontvang elk van die organisasie se verskeie vrywilligers opleiding oor DSAN se benadering en filosofie.
“DSAN het ook met hospitaalbesoeke begin om babas met DS en hul ouers so vroeg moontlik te bereik. Op dié manier verminder ons die vrese van ouers met DS-kinders en maak die reis aangenamer en beter ingelig,” verduidelik Van der Linden.
Sy het die belangrikheid van vroeë ingryping by kinders met DS beklemtoon en gesê dit is die sleutel tot sukses en tot groot voordeel vir dié kinders in terme van hul fisieke en intellektuele ontwikkeling.
“Ons het inligtingsessies met die mediese spanne by die Windhoek Sentrale Hospitaal gehad en DSAN word deur mediese geriewe oraloor die land ingelig wanneer ’n baba met DS gebore word.”
DSAN vat ook hande met opvoeders om die leerplan vir mense met intellektuele ontwikkelingsuitdagings te ontwikkel as deel van die strewe na insluitende onderwys in Namibië.
“Ons kinders het die reg om skool te gaan en te leer, dit is nie onderhandelbaar nie.”
Van der Linden het voorts verwys na DSAN se slagspreuk, #icandoanything.
“By DSAN sien ons julle en glo in julle. Julle maak die wêreld ’n beter plek deur anders te wees en ’n ander perspektief op die lewe te hê. Ons glo in julle en jul vaardighede, ons sien julle!”
Die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste, me. Juliet Kavetuna, het haar voortgesette ondersteuning van insluitende onderwys in Namibië beklemtoon.
“My begeerte is insluitende onderwyswette en beleidsrigtings wat die regte van individue met DS ondersteun en sodoende verseker hulle ontvang gratis en gepaste openbare onderrig,” het Kavetuna gesê.
Sy het gevra die verwante wette en beleidsrigtings moet beginsels en praktyke bevorder wat ontwerp is om die uitkoms van onderrig vir studente met DS te verbeter.
Dit moet ook die ontwikkeling van hoë gehalte post-sekondêre programme vir studente met intellektuele gestremdhede ondersteun.
“Ons moet soveel maniere moontlik vind om mense met DS in staat te stel om as volle lede van hul gemeenskappe te leef,” het sy gesê.
Kavetuna het ook haar dank uitgespreek teenoor alle Namibiërs, ouers, gesondheidswerkers, onderwysers en ander wat “progressief” optree in die bevordering van mense met DS.
Die adjunkminister het Frank Stephens aangehaal wat gesê het: “’n Lewe met DS kan net so vol en opwindend soos enige ander wees. Ek glo werklik ’n wêreld sonder mense soos ek sal ’n armer wêreld, ’n kouer wêreld en ’n minder gelukkige wêreld wees.”
FNB Namibia het ’n tjek van N$92 000 aan DSAN oorhandig as deel van hul volgehoue ondersteuning van die organisasie.
Vir meer inligting, kontak Anita by 081 242 2302, of stuur 'n e-pos aan [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie