Tien gebooie vir Jan en San Tuisbly
Tien gebooie vir Jan en San Tuisbly

Tien gebooie vir Jan en San Tuisbly

Karin Eloff
Die wêreld het oornag onbereikbaar groot geword.

’n Paar weke gelede was ons planeet nog ’n wêreldnedersetting waarin 500 000 mense daagliks op derduisende vlugte tussen lande rondgerits het.

Van vandag af land of vertrek geen kommersiële passasiervlugte meer by ons lughawens nie.

Die Namibiese Huis se deure het toegeklap. En ons in Khomas en Erongo se deure ook. As jy nou op die sypaadjie voor jou huis gaan staan, behoort dit te lyk of die wegraping plaasgevind het.

Maklik gaan dit nie wees nie. Maar terselfdertyd is ons deel van ’n eenmalige en ongekende wêreldgebeurtenis.

Elke dag van nou af is bepalend. Hierdie is ongekarteerde vaarwaters. Die postmoderne mens staan voor sy grootste uitdaging ooit.

Dit voel of elke aardling gecast is vir ’n werklikheidsreeks waarvan die draaiboek deur Stephen King geskryf is.

Ek het gaan googleloer hoe doen ander dit en hier is tien gebooie wat waansin in die tyd van huisgebonde afsondering kan besweer:

· Kom so vinnig as moontlik in ’n roetine en gee struktuur aan jou dag. Staan op en gaan deur jou normale oggend-drills asof jy regmaak om te gaan werk. Moenie oorgee aan die versoeking om tot elfuur in jou pajamas te slof nie.

· Anders as normaalweg, hoef jy nie staan-staan jou Post Toasties af te sluk terwyl jy vir die kinders skree om op te skud anders is hulle laat vir skool nie. Sit saam aan die ontbyttafel. Kyk mekaar in die oë. Skink daardie tweede beker koffie.

· Verdeel die huistake. Maak dit amptelik met ’n skofrooster op die yskas. Die wasgoed spring nie vanself in die wasmasjien en die skottelgoed in die opwasbak nie.

· Rig jou werkstasie op ’n stil plek in die huis in. Spaar jouself moontlike verleenthede en maak die deur toe wanneer jy met jou baas of kollegas skype. Hulle wil nie sien hoe loop jou man in sy onderbroek agter jou verby nie.

· Bêre om voor die hand liggende redes daai drienk tot vyfuur wanneer die vliegtuig oor is.

· Nou is dit tyd om Linda Kriel se oefen-DVD wat jy vyf jaar gelede gekoop het om viets te word voor jul Mauritius-vakansie en toe nooit gebruik het nie, uit die laai te haal. Goedvoel-hormone gaan die swart hond in sy hok hou.

· Besluit as gesin om saam ’n projek in of om die huis aan te pak. Bou ’n reuselegkaart, begin die groentetuin waaroor julle al lankal droom, restoureer ’n meubelstuk of begin ’n skeppende vlog waarmee julle met die buitewêreld kommunikeer.

· Wanneer jy die toegelate uitstappie na jou naaste supermark of apteek aanpak en die manne (of vroue) in uniform keer jou voor, byt op jou tande en moenie astrant wees nie. Soos iemand sê: Niks sit die deursnee spietkop/soldaat/polisieman op ’n power trip soos ’n Covid-19-noodtoestand nie.

· Jy en jou huismense sál kajuitkoors kry. Maar moenie toegee aan die versoeking om die inperkingsreëls te verbreek nie. Gaan stap met jou hond en kry vars lug.

· Les bes: Was jou hande en bly gesond.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!