Witkrans kry nuwe lewe
Die produkte afkomstig van ’n Rooms-Katolieke plaas is vir drie kerkkoshuise geoormerk.
Tanja Bause – Dinge is besig om op die plaas Witkrans van die Rooms-Katolieke Kerk te gebeur. Die bome dra vrugte, verskillende soorte groente groei in die tuin en onlangs is 425 hoenders van die boerdery geslag.
Diaken Petrus Afrikaner het op 1 September verlede jaar op Witkrans as die pastorale administrateur en superintendent vir Witkrans en Gochas begin.
Witkrans is sowat 13 km vanaf Stampriet op pad na Gochas geleë. Op die plaas is ’n groot kerk wat al in 1963 gebou is, asook ’n skool waar kinders van graad 1 tot graad 7 skoolgaan.
Volgens amptelike inskrywings in die kerkboeke is die plaas al vanaf 1932 in die besit van die kerk.
“Daar is plek vir tussen 160 en 180 kinders in die skool. Die kinders kom meestal van Windhoek, Stampriet, Mariental en die Hardap-plotte. Daar is nie baie kinders op Witkrans self nie. Ons gemeenskap bestaan uit sowat 80 mense, wat hoofsaaklik pensioenarisse, volwassenes, jeugdiges en leerders is. Die kinders word in ’n koshuis gehuisves wat 130 kinders kan akkommodeer,” het hy gesê.
Die gemeenskap op Witkrans bestaan hoofsaaklik uit mense wat oor die jare op die plaas vir die kerk gewerk het.
“Die plaas was ’n werksplaas wat ’n inkomste vir die kerk gegenereer het, asook werk aan die gemeenskap gegee het. Vroeër jare is met beeste en skape geboer. Katoen is aangeplant en daar was ’n groot groentetuin, asook vrugtebome. Die mense wat op die plaas, in die skool of koshuis gewerk het, is nou afgetree en woon op Witkrans in tweeslaapkamerhuise wat die kerk gebou het.”
Volgens Afrikaner het die kerk ook ’n vragmotor gehad waarmee hulle die kinders opgelaai het en ná skool weer gaan haal het. Die vragmotor is egter verkoop ná die vervoerwette ingekom het wat dit verbied dat mense op ’n oop vragmotor vervoer mag word.
Afrikaner het met die hulp van die gemeenskap ’n hoenderboerdery en groentetuin begin.
“Ons het twee hokke gebou en het die eerste 500 kuikens in Maart ontvang. Hulle is deur mnre. Sigbertus Swartbooi en Cornelius Isaacks versorg. Vir ons eerste probeerslag was dit ’n reusesukses en ons het 425 hoenders geslag. Ons het nog nooit met hoenders geboer nie en was baie onkundig. Ons is dus trots op wat ons vermag het. Die volgende 500 kuikens sal nog dié maand hier aankom.”
Die hoenders word aan die Rooms-Katolieke Kerk se koshuise op Witkrans, Cambridge en Aroab uitgedeel.
“Ons het vir ’n wyle gestop, omdat die koshuise weens die Covid-19-pandemie gesluit was en die vrieskaste vol was van die eerste hoenders. Maar ons vertrou alles sal terug na normaal keer en ons koshuise gaan weer heropen. Ons verkoop ook van die hoenders aan die gemeenskap.”
Daar was reeds lemoen-, suurlemoen-, pomelo-, dadel-, nartjie- en vyebome geplant.
“Die bome was net ’n bietjie verwaarloos en ons het hulle gesnoei en bemesting gegee en hulle almal het vrugte gedra. Ons hoop om baie meer volgende jaar te oes.”
Die kerk het tuingereedskap, materiaal en saad aangeskaf en einde Februarie is daar met die groentetuin begin.
Jeugdiges uit die gemeenskap is op ’n vrywillige basis deur middel van ‘n ‘kos vir werk’-stelsel ingespan.
“Hulle het die grond bewerk en omgeploeg en vir elke 60 ure wat hulle gewerk het, het hulle 20 kg mieliemeel, 750 ml kookolie en twee blikkies vis gekry. Ons het nou nog ’n hektaar bewerk en nou moet ons nog net die water aanlê en dan kan ons plant. Einde van die maand is alles in die grond,” het hy gesê.
Intussen is daar al spinasie, wortels en beet in oorvloed geoes. Die groente en vrugte word ook aan die kerkkoshuise gelewer.
“Ons gaan ook lemoene, nartjies en groente aan die gemeenskap uitdeel. Die tuin is nie ’n uitgawe nie en dit is nie nodig om die groente en vrugte aan die gemeenskap te verkoop nie. Die hoenders is ’n uitgawe en dus moet ons die hoenders verkoop, maar ook nie teen ’n hoë wins nie. Ons wil voedsel aan die gemeenskap en koshuise lewer; ons wil nie ryk hieruit word nie.”
Diaken Afrikaner is op Warmbad gebore en het op Mariental grootgeword. Hy het na skool onderwys gestudeer en tot sy aftrede by verskillende skole gewerk. Hy het op Keetmanshoop gewoon toe hy afgetree het en daar is hy ook as diaken in die kerk ingewy. Hy was ’n dosent by die Suide-kampus van die Universiteit van Namibië ná sy aftrede.
“Ek was besig met studente toe die hoogeerw. biskop Willem Christiaans (OSFS) van die Keetmanshoop-bisdom my skakel en sê hy wil my Witkrans toe stuur.”
Sy vrou is tans die waarnemende skoolhoof by Witkrans, asook ’n onderwyser. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie