‘Zille word polities versmoor’
Jason Felix - Mmusi Maimane, DA-leier, se kaalvuisgeveg met sy voorganger Helen Zille is op ’n tegniese punt geknou en het haar oënskynlik op die voorvoet geplaas in die stryd wat dreig om die party verder te verdeel.
Maimane het Saterdag op ’n nuuskonferensie aangekondig dat Zille, Wes-Kaapse premier en voormalige DA-leier, hangende ’n tugverhoor oor haar kolonialisme-twiets uit alle partybedrywighede geskors is.
Enkele ure later het die DA ’n U-draai gemaak deur ’n tweede verklaring uit te reik waarin die party sê die federale raad het sy voorneme om haar tydelik te skors van partybedrywighede totdat die tugprosesse teen haar afgehandel is aan Zille oorgedra.
“Ons het Helen Zille die geleentheid gegee om aan ons te sê hoekom sy nie geskors moet word nie. Die kennisgewing waarin vertoë versoek word, is reeds aan haar gestuur en enige vertoë moet binne 72 uur gerig word,” lui die verklaring.
’n Finale besluit om Zille te skors of nie sal geneem word sodra die vertoë gerig en oorweeg is.
Die geveg tussen Zille en Maimane het oënskynlik ook die faksiegevegte in die party blootgelê. Minstens een senior lid in die DA het dit opgemerk.
Makashule Gana, DA-LPW in Gauteng, het getwiet: “Ek wens die federale regskommissie kan die Zille-saak uitsorteer. Wat nou gebeur, skeur die party in twee en benadeel ons kanse vir 2019.”
Op Twitter het Zille gesê die aankondiging is strydig met ’n brief wat sy van James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, ontvang het dat sy tot Dinsdag tyd het om redes aan te voer waarom sy nie geskors moet word nie.
Dít was egter duidelik die kennisgewing waarvan Maimane in sy verklaring praat.
Volgens Maimane het hy haar gevra om onvoorwaardelik aan alle Suid-Afrikaners om verskoning te vra vir haar twiets oor kolonialisme, maar sy het geweier om dit te doen.
As die federale raad ondanks haar vertoë besluit om tog met die skorsing voort te gaan, sal Zille nie langer vergaderings van die DA se koukus in die Wes-Kaapse provinsiale parlement, die federale raad of die federale uitvoerende komitee kan bywoon nie. Sy bly aan as premier van die Wes-Kaap omdat dit ’n struktuur buite die party is.
Zille kan net as premier verwyder word deur ’n mosie van wantroue, haar bedanking of as die DA haar heeltemal uit die party skors.
Ingevolge die Grondwet kan ’n mosie van wantroue teen ’n premier net slaag wanneer die meerderheid van ’n provinsiale parlement so ’n mosie steun. In Zille se geval moet daar 22 of meer lede van die Wes-Kaapse parlement teen haar stem.
Tans is daar 42 lede van die wetgewer – 14 van die ANC, een elk van die EFF en ACDP en 26 van die DA.
Indien die mosie van wantroue teen Zille slaag, moet sy en haar hele provinsiale kabinet bedank.
Bonginkosi Madikizela, waarnemende DA-leier in die Wes-Kaap, het gesê: “Ek het niks verder oor die kwessie te sê nie. Die party het ’n amptelike verklaring hieroor uitgereik. Vir ons in die provinsiale regering gaan sake aan soos normaal.”
Madikizela, Wes-Kaapse leier van regeringsake, is die ooglopendste kandidaat om die leisels by Zille oor te neem.
Zille het Sondag nie op ’n e-pos-versoek om kommentaar gereageer nie.
Die ANC in die Wes-Kaap sê Helen Zille se skorsing uit DA-bedrywighede is nie genoeg nie en dat sy ook uit haar amp as premier van die provinsie verwyder moet word.
Faiez Jacobs, provinsiale sekretaris-generaal van die ANC, het gesê dié besluit van Maimane moes al lankal uitgevoer word.
“Zille word nou al vir te lank met kinderhandskoene hanteer. Haar kommentaar op Twitter vroeër waar sy van professional blacks praat en een keer swart mense in die Oos-Kaap as vlugtelinge beskryf het, is bewys dat sy nie sal verander nie.”
Die politieke ontleder Ralph Mathekga het aan Gert van der Westhuizen gesê die ANC sal beslis ’n mosie van wantroue in die Wes-Kaapse parlement teen Zille indien, wat dinge nog moeiliker vir haar gaan maak.
Theo Venter, ’n politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, het op sy beurt gesê: “Die skorsing versmoor Zille polities omdat dit haar heeltemal uit die politiek sny.”-Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie