10 leeus vanjaar onwettig afgemaai
10 leeus vanjaar onwettig afgemaai

10 leeus vanjaar onwettig afgemaai

Die nasionale beleid oor mens-dier-konflik word tans hersien en 'n bestuursplan oor mens-leeu-konflik vir die Noordweste word ontwikkel.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Altesaam tien leeus is dusver vanjaar onwettig vrekgemaak, niemand is tot nog toe in hegtenis geneem nie en twee mense is weens leeu-aanvalle beseer.

Dié syfers is gister deur die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, tydens 'n mediakonferensie verskaf.

Volgens hom is ses leeus onwettig deur lede van die gemeen­skap weens mens-leeu-konflik in die Omusatistreek vrekgeskiet, een in die Oshanastreek en drie woestynaangepaste leeus is deur die gemeenskap vergiftig. Dié drie leeus wat vergiftig is, was deel van die vyf leeus in die dokumentêre rolprent Vanishing Kings en waarvan al vyf vrek is.

“Onlangs het boere om die Etosha Nasionale Park leeus net buite die park in die naam van mens-dier-konflik onwettig gejag.”

Wat die saak teen die Noorde-­sakeman en leeuskieter mnr. David Kambwa betref, “is die verslag van beamptes en die inspekteur-­generaal van die Namibiese polisie ontvang, dossiere is geopen en al hierdie sake is na die aanklaer-generaal vir beslissing verwys,” het Shifeta gesê.

Die twee mense wat weens leeu-aanvalle beseer is, is een van die Sesfontein kommunale bewaringsgebied en die boer, mnr. Ngeripurue Heuva, wat op 3 Julie in die omgewing van die Omtjokavare-­nedersetting in die Kunenestreek aangeval is. Hy is verlede week uit die Opuwo-staatshospitaal ontslaan.



HANDEL IN LEEUBENE

Die minister is ook bekommerd dat die handel in leeubene in Suid-Afrika 'n negatiewe impak op Namibise leeus kan hê.

Shifeta het gewaarsku met die nuwe Wet op Beheerde Wildprodukte en Handel sal baie streng strawwe en hemelhoë boetes aan oortreders opgelê word wat in die besit van die velle, bene en vleis van leeus, luiperds en jagluiperds is.

“Mense wat in besit van hierdie diere­produkte is, moet om permitte aansoek doen. Dit is nie 'n verskoning as jy nie die wet ken nie,” het Shifeta gemaan.

Volgens hom het Namibië sowat 700 leeus, met 430 leeus in die Etosha Nasionale Park en omliggende kommersiële plase. In die Kunenestreek en dele van die Erongostreek is 120 leeus, 50 in die Khaudum Nasionale Park en omliggende gebiede van die Kavango-­Oos- en Otjozondjupastreek, 50 in die Zambezistreek en die res op kommersiële plase.



DRAKRAG VIR leEus in eTOSHA

“Die drakrag vir Etosha is sowat 350 leeus,” het Shifeta gesê en “bevolkingsyfers moet wetenskaplik volgens drakrag bestuur word”.

Hy sê die leeuvermindering­strategie vir Etosha sluit in die vang en hervestiging van leeus in ander gebiede waar leeus nie in konflik met mense sal wees nie.



HALFMILJARD VIR HEINING

Die ministerie is bewus van die huidige situasie van die heining van Etosha wat opgegradeer moet word.

“Die heining is 822 km lank wat grens aan die streke van Oshikoto, Oshana, Omusati en Kunene, en bestaan uit verskillende tipes heinings,” sê die minister.

“Om die heining te verbeter, het die ministerie in 2011 met die konstruksie en elektrifisering van 'n olifant- en roofdierbestande heining begin. Oor die afgelope ses jaar is net 112 km van die heining opgegradeer met 710 km nog oor.”

Shifeta sê sowat 'n halfmiljard Namibiese dollar word vereis om die hele heining van Etosha reg te maak.

“Die heining is op plekke deur mense vernietig of platgemaak om hout te versamel, bome af te kap of hul vee vir weiding in Etosha in te jaag. As hulle nie wil luister nie, sal ek hulle hof toe vat,” maan die minister.

“Van hulle sê Etosha is deel van kommunale grond. Hulle meen renosters is God se diere wat aan hulle behoort, en renosterstropers is helde in hul oë. Hierdie gebied is vervuil met sulke beweringe.”

Shifeteta sê die nasionale beleid oor mens-dier-konflik word tans hersien en ingevolge die beleid sal 'n bestuursplan oor mens-leeu-­konflik vir die Noordweste ontwikkel en geïmplementeer word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!