100 jaar van Sam-!Khubis herdenk

Heelwat werk lê nog voor, maar baie mylpale is reeds behaal
Gerine Hoff
Catherine Sasman – Beplanning vir die komende eeufeesviering van die geveg van Sam !Khubis is reeds uit die blokke, met die feeskomitee wat hom op baie meer besoekers oor ’n langer tydperk voorberei.
Hierdie jaarlikse fees herdenk die feitlike uitwissing van die Basters aan die hand van die Duitse Schutztruppe in ’n geveg wat op 8 en 9 Mei 1915 in die Sam !Khubis-koppies suidwes van Rehoboth plaasgevind het.
Die amptelike herdenking begin gewoonlik met ’n kerkdiens en ’n optog op die dorp voor die feesgangers saamtrek na die koppies waar die werklike slag plaasgevind het.
“Vanjaar se eeufeesviering bied aan ons die sonderlinge geleentheid om Namibiërs in te lig en bewus te maak van die strewe van Sam
!Khubis en waaroor die gelofte regtig gaan,” het die voorsitter van die feeskomitee, mnr. Jacky Britz, gesê.
Hierdie jaar se vieringe vind vanaf 6 tot 8 Mei plaas en die komitee fokus op geldinsameling wat reeds in November verlede jaar begin is met ’n gala-dinee waar meer as N$30 000 ingesamel is. Ander soortgelyke geleenthede sal ook in Maart en April in Windhoek en op Swakopmund plaasvind.
Op 20 Desember het lede van die feeskomitee ’n bewusmakingsveldtog by onder meer die nuwe winkelsentrum op Rehoboth gehou. Meer as 2 000 pamflette is daarna ook versprei om die publiek in te lig oor die onderskeie inisiatiewe wat reeds aan die gang is.
Die komitee het 75 gholf-hempies en 50 pette met die nuwe eeufeeswapen op gekoop. Hierdie items is uiters eksklusief en besondere aandenkings omdat die ontwerp nie weer te koop aangebied sal word nie.
Ander items soos kledingstukke en ander Sam !Khubis-aandenkings sal binnekort te koop wees, het die komitee gesê.
Dringende opgradering van die bestaande infrastruktuur op die gedenkterrein vir die verwagte skare, is ook ’n prioriteit.
’n Terrein-subkomitee het op 20 Januarie met bouwerk op die terrein begin. Daar sal bykomende stort- en toiletgeriewe, sowel as ’n kiosk en eetplek vir genooide gaste, sprekers en ander belangrike persone gebou word.
Die komitee sê met die ondersteuning van omliggende plaasboere oor die jare, het die tollie-projek die grootste bron van inkomste vir die fees geword. Hierdie jaar het die komitee dit ook goed geag om 2 000 jeugdiges te versoek om elk N$1 000 te skenk as bykomende geld vir hierdie en ander bouprojekte. Die komitee sê die oogmerk is nie om die volle bedrag op een slag te betaal nie, dit kan oor etlike maande gedoen word.
“Dit is ons strewe om ons gewyde terrein sodanig op te gradeer dat ons nageslagte met trots na hierdie handewerk sal kan terugkyk en voortbou op wat die huidige geslag Basterkinders met soveel toewyding tot stand gebring het,” het Britz gesê.
Die volgende groot geldinsamelingsgeleentheid is die Baster-kultuurdag en perdemarathon wat op 28 Februarie by Rehoboth se skougrond plaasvind. Om die perde-geskiedenis van die Basters te vier, sal spesiale versamelstukke en perdekleedjies met die splinternuwe eeufees-logo te koop wees.
Die komitee beloof baie pret en vermaak by dié geleentheid waar onder meer ’n beeskalf platgetrek en gebrandmerk sal word en jongelinge op ’n meganiese rodeo-bul kan ry. Daar sal ook ’n besigtiging van huise van die Baster-voorvaders op die skougronde wees.
Om meer mense deel te maak van die tog na die feesterrein, beoog die komitee om kragte met die bekende I Dream Africa safari-groep saam te snoer vir die bemarking en bedryf van tentkampe wat tydens die drie dae se feesvieringe beskikbaar sal wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!